TUINROETE|KAROO NUUS - Ofskoon die Oekraïne geografies ver verwyderd is, kan Suid-Afrikaners hulle maar staal dat die konflik daar, 'n direkte impak op hul sakke gaan hê.
Sedert Russiese magte verlede Donderdag, 24 Februarie, die land binnegeval het was daar verskeie verwikkelings op internasionale markte en veral Westerse lande het begin met streng sanksies.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi, het Dinsdag gesê daar kan aanvaar word dat Suid-Afrikaners die gevolge van die konflik gaan voel.
Hy het gesê Suid-Afrika is nie geïsoleer van die res van die wêreld nie. Suid-Afrika is blootgestel aan gebeure in die Oekraïne.
Suid-Afrikaanse produkte word na Rusland uitgevoer en die wêreldwye aggressiewe sanksies gaan dit nadelig raak. Die gebeure gaan ook die prys van ru-olie nadelig beïnvloed.
Rusland is die tweede grootste verskaffer van ru-olie/gas in die wêreld.
Die nuutste verhoging in die brandstofprys wat Woensdag in werking getree het, word hoofsaaklik toegeskryf aan die gebeure in die Oekraïne.
"Ons kan aanvaar dat daar weer aanstaande maand 'n prysverhoging gaan wees. Dit sal natuurlik afhang van of 'n ooreenkoms in die Oekraïne bereik kan word. My gevoel is dat dit 'n langdurige proses gaan wees."
Volgens Cilliers is dit nie net die prys van brandstof wat ter sake is nie. Brandstofpryse sal ook weerspieël word in die produkte in die markte.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'