HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-besigheidsforum het reeds 'n geruime tyd gelede die munisipaliteit, asook lede van die provinsiale regering en die LLP van Hessequa, Denis Joseph, oor moontlike ligte op die N2 by dié dorp genader.
Die voorsitter van die besigheidsforum, Ben Dell, noem dat hulle ook gevra het dat die spoed in die gebied na 60 km/h verminder word, asook die aanbring van kameras by Haig- en Eksteenstrate se ingange om veiligheid te verseker.
Boy van Rensburg van Albertinia noem dat die saak reeds talle kere deur homself, asook die plaaslike toerismevereniging onder die munisipaliteit se aandag gebring is.
"Die swak beligting van Albertinia se dorpsingang is 'n verleentheid. Die motivering vir behoorlike beligting van die stuk pad vanaf die Stasiestraat aansluiting tot by die N2 en Aloe Ferox is veiligheid, estetiese voorkoms van ons ingang in die nag, sigbaarheid daarvan en natuurlik die aantreklikheid van die dorp."
Hy is van mening dat dit 'n groot bydrae tot toerisme en ekonomiese groei sal bydra. "Goeie beligting by die Stilbaai-afdraai sal ook 'n voordeel inhou vir die inwoners wat daar stop om passasiers op en af te laai.
Dit verbeter die veiligheidsituasie van die omgewing en veral vir voetgangers, rylopers en padgebruikers. Goeie beligting skep 'n goeie indruk van 'n plek en 'n veilige hawe in die nag."
Volgens hom sal dit 'n groot veer in die huidige munisipale raad en provinsie se hoed wees indien hulle hierdie inisiatief suksesvol kan uitrol.
Joseph het in sy kapasiteit as kiesafdelingshoof van die Hessequa-gebied 'n skrywe aan Chris Hungsinger, lid van die Wes-Kaapse parlement, gerig om te vra dat straatligte by Heidelberg van die Engen Garage tot by die Barrydale-afdraai, by Albertinia van die Aloe Ferox fabriek tot by die Shell Garage en by die Stilbaai-afdraai opgerig moet word.
Volgens hom is dit nodig, veral met die aantal padongelukke wat in die gebiede voorkom.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het ook sy steun aan Joseph gegee rakende die aansoek.
Die voorsitter van Stilbaai-sakekamer, Rean Pretorius, noem dat hulle opgewonde is oor die moontlikheid van ligte by die Stilbaai-kruising.
"Die sakekamer se ikoniese bootjie is 'n uiters gewilde ontmoetingspunt vir besoekers aan dié kusdorp en ander omliggende dorpe, dus sal addisionele beligting daar van groot waarde wees."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'