In 'n voorval in 'n woongebied naby Stilbaai Rolbalklub moes lede van CapeNature 'n bosbokram wat redelik gereeld gesig gewys het, van kant maak. Die bok het in 'n leë plastiekplaatjie wat deur loodgieters gebruik word, getrap wat op die grond gelê het.
Die plaatjie het diep in een van die bok se laer bene gesny, wat gangerine tot gevolg gehad het. Die bosbokram kon weens die besering nie verder loop of spring nie en het erge pyn verduur. Volgens Rico Menezies van CapeNature op Stilbaai is dit tyd dat plaaslike inwoners meer verantwoordelikheid aan die dag lê as dit kom by die beskerming en bewaring van die gebied se bosbokke.
Volgens Menezies beweeg die bokke meer na die dorp se kant toe met die veld wat droog is en hulle kos in die groen korridors en tuine van die dorp soek. Dit het tot gevolg dat al meer voorvalle plaasvind van waar hul raakgery en selfs onwettig gejag word, asook in strikke gevang word, tendense wat sommige plaaslike inwoners dwars in die krop steek. Volgens Menezies was daar die afgelope maand twee voorvalle waar CapeNature genoodsaak was om bokke van kant te maak weens erge beserings.
"'n Beseerde bosbok is baie gevaarlik en word die publiek aangeraai om nie sulke diere te nader nie en eerder CapeNature in kennis te stel". Menezies noem dat dit baie duur is wanneer 'n veearts uitgeroep moet word om 'n beseerde bok te verdoof, te vang en dan van kant te maak. Die verdowingsmiddel wat gebruik word, kos ongeveer R1 000 en sluit nie die veeartskostes in nie. "Iemand moet pa staan vir die rekeninge aangesien dit onmenslik is om so 'n beseerde dier net te laat vrek aan sy beserings".
Bosbok 'n beskermde spesie
Tragelaphus scriptus is 'n beskermde dier, soos met alle ander wild in die Wes-Kaapse provinsie en word dit so dikteer deur die Ordonnansie op Natuurbewaring van 1974. CapeNature (die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad) is ook die implementeringsliggaam van die genoemde wetgewing en word daar ook jaarliks 'n jagkennisgewing deur hulle in die Staatskoerant onder dié genoemde ordonnansie gepubliseer.
Dié kennisgewing bepaal dan die jagseisoene per spesie, daaglikse hoeveelheid diere per spesie wat gejag mag word (jagbuit) en of daar verbode jagmetodes is wat opgeskort is vir die jag van 'n spesifieke spesie. Die jagseisoen vir bosbok was vanaf 1 Junie tot 31 Julie 2012 met 'n daaglikse jagbuit van een bok per persoon.
Enige persoon wat 'n bosbok wil jag, mag dus so doen solank die persoon 'n geldige lisensie het, die skriftelike toestemming van die betrokke eienaar het en verder ook binne die afgekondigde jagkennisgewing se bepalings hou. Daar is egter natuurlik die uitsondering op hierdie reël. Die eerste is dat as 'n grondeienaar 'n sertifikaat van voldoende omheining by CapeNature verkry het vir sy grond, stel dit hom in sekere opsigte vry van die jagkennisgewing (jagseisoen, jagbuit en sekere verbode metodes soos om in die nag te jag). Die enigste andere uitsondering is as 'n persoon 'n spesiale permit vanaf CapeNature bekom vir byvoorbeeld skade aan landbou gewasse (oesskade).
CapeNature is ook die enigste entiteit wat so 'n permit mag/kan uitreik en word dit ook streng beheer. Om die genoemde wetgewing te kan administreer moet jy ook onder die Ordonnansie op natuurbewaring as 'n natuurbewaringsbeampte aangestel wees. Slegs CapeNature is by magte om 'n karkas te verwyder of 'n dier van kant te maak.
* Kontak gerus vir CapeNature met enige klagtes met betrekking tot onwettige jag of navrae in die verband by 028 713 2366.
Die plastiek loodgieterhouer het dwarsdeur die bosbok se onderbeen gesny wat gangerine veroorsaak het. Die bok moes noodgedwonge uitgesit word weens erge lyding en pyn. Foto's: CapeNature.