STILBAAI NUUS - Die brand wat Vrydagmiddag 28 Julie om ongeveer 14:00 op Kransfontein buite dié kusdorp uitgebreek het, is onder beheer - maar nog nie veilig verklaar nie.
Volgens Adneshel Voss (hoof: Beskermingsdienste) is daar nog 47 personeel met drie tenkers en vier bakkies van Hessequa Brandweer, Eden-distriksmunisipaliteit en Working on Fire (WoF) op lyne uit en om die situasie te monitor.
"Lugondersteuning is op bystand. Die voorspelling is dat die wind vandag erg gaan waai en is ons gereed indien enige van die koppe weer opvlam." Na beraming het ongeveer 3 000 hektaar tot op hede in die slag gebly.
'n Tydelike werkstasie was Saterdag by die Bistro langs die rivierpad ingerig, waarvandaan sake gemonitor en terugvoer ontvang was oor die vordering wat gemaak is, asook die beste plan van aksie om te keer dat die brand weer opvlam.
Geen strukture is beskadig nie en daar is ook geen lewensverlies nie.
Dit is nie seker wat die brand veroorsaak het nie, maar die saak sal deur die polisie ondersoek word.
Lees vorige artikels hier:
• Opvolg: Brand op Kransfontein
• Brand woed voort
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'