RIVERSDAL NUUS - Wanneer die verhoor van vyf mans wat van die moord op Heila Kilian aangekla word hervat, sal dit presies twee jaar na haar dood op 16 April 2018 wees.
Die verhoor wat op 17 Februarie in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai begin het, is op 20 Maart tot April uitgestel.
Sakhumzi Benya, Nkoshihethu Nocuza, Msomi Nikani, Monwabisi Maki en Xolusani Myoyi, almal van die Oos-Kaap, word van moord, roof met verswarende omstandig-hede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.
Kilian, van Springs, het die aand saam met haar suster Brenda, swaer David Thomas, en Shaun Vorster, 'n sakeman van Stilbaai wat ook op die plaas Gazania gewoon het, gebraai toe die gewapende mans verskyn. 'n Skoot is afgevuur en Kilian is noodlottig gewond.
Die Thomas-egpaar, wat sedert die rooftog in Viëtnam woon en Vorster is deur die staat as getuies geroep. Nog vier mense van Kwanokuthula, waar die vyf mans sowat 'n jaar lank voor die rooftog gewoon het, het ook getuig.
Vier van die vyf het voor die rooftog op die Favour Stud-perdeplaas langs die Stilbaaipad gewerk. Uit getuienis blyk dit dat hulle kort voor die rooftog by 'n plaas buite Riversdal ingebreek en vuurwapens gesteel het. Van dié vuurwapens is in die rooftog gebruik om kontant, wat na hul mening by die kwekery en koffiewinkel op die plaas sou wees, te roof. Hulle is uiteindelik met onder meer R40 000 wat aan Vorster behoort het, in David se bakkie vort. Die bakkie is later in Mitchellsplein gevind.
Twee van die drie bekentenisse wat deur die polisie afgeneem en deur die hof aanvaar is, verbind hulle met die misdaadtoneel.
"Ons wag nou maar net dat die saak afgehandel moet word - nie dat dit my lewe gaan verander nie," het Hein Kilian, Heila se man wat die verhoor bygewoon het, gesê. "Dit bly maar 'n hartseer saak."
Volgens hom het die Thomas-egpaar die plaas by Stilbaai verkoop. Hulle kuier by hom op Springs tot die algehele inperking opgehef word en hulle na Viëtnam kan terugkeer.
Hein Kilian by die kruis wat hy by die plek waar sy gesterf het, aangebring het.
IN SHORT
The hearing of five men who are accused of the murder of Heila Kilian op 16 April 2018, has been postponed to April.
Verwante artikels:
- Só lyk die Stilbaai 5
- Farm murder: Identity parade deemed admissible
- Judge to decide about photos in court
- Plaasmoord: Identiteitsparade vandag onder vergrootglas
- Murder at farm braai: 5 in court
- Farm murder: 5 to appear in high court
- Plaasaanval: Blye weersiens word tragedie
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'