Update
SLANGRIVIER NUUS - Die lang gewag om as volwaardige burgers erkenning te geniet is uiteindelik vir Maria September (57) van Diepkloof en haar dogter, Charlsia (18) iets van die verlede.
Albei het hul identiteitsdokumente Woensdag, 24 November tydens die Jamboree in die Slangrivier-gemeenskapsaal ontvang.
September senior, meer bekend as Max, is 'n enkel ma van drie kinders wat vir die afgelope sewe jaar gesukkel het om haar as lewend verklaar te kry.
Suid-Kaap Forum het enkele maande gelede berig dat Max sedert 2012 verkeerdelik as gestorwene geklassifiseer is nadat haar ma, wyle Maria September in 2012 gesterf het. Beide dogter en ma het dieselfde voorname en van gehad. Sy het sonder enige sukses vir meer as sewe jaar gesukkel om van haar spookstatus ontslae te raak.
Om dinge te vererger kon Charlsia ook nie haar identiteitsdokument bekom nie. Sy moes vir twee jaar daarvoor wag.
"Ek sal nou uiteindelik onderwys kan studeer om ons lewensgehalte te verbeter," het sy gesê.
Beide spreek hul dankbaarheid teenoor Lesley Hartnick, departement van provinsiale regering gemeenskapsontwikkelingswerker (CDW) uit vir sy onbaatsugtige diens en bereidwilligheid om hulle in staat te stel om ook nou volwaardige burgerstatus te geniet.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'