Update
RIVERSDAL NUUS - Small Dreams is 'n nie-winsgewende dagsorgsentrum vir kinders met enige en alle soort spesiale behoeftes.
Autisme, Down-sindroom en ADHD is net 'n paar van die tipe behoeftes waarmee die sentrum werk.
Die sentrum het sy deure op 17 Januarie oopgemaak. Tammy Kleynhans, onderwyseres en bestuurder van die sentrum, het gevoel dat daar 'n behoefte vir so tipe sentrum is.
Sy sê: "Ek wou nog altyd met kinders met spesiale behoeftes gewerk het. Ek het in Londen, Engeland by 'n baie groot skool gewerk wat voorsiening maak vir kinders met spesiale behoeftes.
"Ek het daar met kinders tussen die ouderdom van agt en 10 gewerk en meeste van my ondervinding daar opgedoen."
Sy beskik oor 'n graad in onderwys en het in Suid-Afrika as primêre onderwyseres gewerk. Verlede jaar het sy reeds tot die besef gekom dat dit tyd is om haar droom waar te maak.
Die beplanning het begin en sy het 'n bestuursraad bymekaar gekry.
Daar is reeds drie kinders in die skool. Tammy werk saam met 'n arbeidsterapeut by Riversdal-kliniek en kinders word na die arbeidsterapeut verwys indien nodig.
Die hoofdoel van die skool is om die kinders op 'n unieke manier te leer waarby die kind kan aanpas.
"Elke kind moet sy eie onderrigplan hê. Wanneer die ouers sê dat hulle kind nie by 'n tafel kan sit nie word dit deel van daardie kind se leerplan.
"Ons werk dan daaraan om dit vir die kind te leer. Ons wil hulle soveel moontlik vaardighede leer.
"Wiskunde sal byvoorbeeld so prettig en prakties moontlik aangebied word. Ons gebruik meer praktiese maniere en werk ook volgens elke kind se vermoë."
Omdat die sentrum nie-winsgewend is nie het hulle borge nodig. Indien jy meer wil uitvind skakel Tammy by 082 898 4246 of stuur 'n e-pos na tammy@small-dreams.co.za.
Die sentrum is in Oosthuizenstraat geleë.
Die skool se Thundafund profiel is aktiveeer vir mense wat donasies wil maak.
Die volgende skakel kan gevolg word: http://www.thundafund.com/project/small-dreams.
ARTIKEL & FOTO'S: SAN-MARIÉ CRONJÉ, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'