Update
HESSEQUA NUUS - In die duinegebied van Albertinia is 'n geslaagde werkskeppingsprojek wat bydra tot vleisbraai-feestelikhede in die Kaap.
Die projek het die lastige indringerboom wat die veld vervuil tot 'n ekonomiese bate met sy eie ketting van waardetoevoeging omgekeer.
Riaan Botma, ondervoorsitter van die Duineveld-Kusvereniging het 'n dekade gelede 'n gedeelte van die ou plaas Groot Ystervarkfontein gekoop en toe ontdek dat sowat 50 ha toegegroei is deur Acacia cyclops, ook bekend as rooikrans en rooipitjie.
Die Australiese plant met geel blommetjies en kenmerkende rooi pitjies in die peule, groei vinnig in sand en verdring die natuurlike Albertinia-fynbos. Die saadjies word deur voëls en die wind versprei.
Botma en een werker het geleidelik begin om die naaste rooipitjies uit te roei. "Ná 'n tyd het ek besef dit is 'n geweldige taak en toe het ek besluit dit is oorlog," sê hy. "Die plant het een voordeel, naamlik dat die stam en dik takke goeie kole maak as dit goed droog is."
Vroeg in 2016 het Botma se navrae gelei tot Calvin Seconds, 'n ondernemer in Theronsville, Albertinia. Hulle het 'n ooreenkoms aangegaan. Seconds het 'n span mense gewerf, hulle is opgelei in die gebruik van kragsae en so het hulle moderne houtkappers geword.
Die span ry elke oggend 28 km ver uit Albertinia en teen 07:00 is hulle in die veld. Die hele proses is glad georganiseer, van handskoene en skermbrille tot rolverdeling en rustye.
Bruikbare hout word gesaag, gekap en in lengtes van so 30 cm gekloof voor dit gestapel word om te droog. Elke maand vervoer 'n reusevragmotor en sleepwa 30 000 stukke hout na Kaapstad. Die verdere proses van verpakking en verspreiding na die kleinhandel is 'n stedelike werkskeppingsprojek. Die gevolg is dat vyf gesinne van Albertinia van 'n goeie inkomste verseker is - en Kapenaars het toegang tot goeie braaihout wat behoorlike kole vorm.
In die twee jaar is sowat 30 ha skoongemaak. "Hulle sal nog lank kan werk want daar is nog minstens 20 ha wat met rooipitjie besmet is."
Die inkomste van die hout is geheel en al tot die houtkappers se voordeel, maar die saagtoerusting, trekker en diesel kos hulle al hoe meer. Seconds sê die span is voorslagmense wat reg vat en doen. "Ons werk ook Saterdae want die kappers wil dit so hê."
Daar is ook 'n tweede werkspan van vier manne wie se taak dit is om van die takke ontslae te raak, want droë takke wat agterbly hou 'n brandgevaar in. 'n Tomcat-snippermasjien word gebruik om die takke op te kap en oor die veld te strooi. Waar die veld skoongemaak is, moet opslagbooompies gereeld uitgetrek word voor dit weer wortel skiet.
Die houtmakers van Ystervarkfontein van links: John Matthee, Liezel Erasmus, Lloyd Erasmus, Christie Moses en Calvin Second. Hulle trekker en sleepwa lyk moeg, maar dit werk nog sterk.
Lees 'n vorige artikel hier: Een se dood is 'n ander se brood
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'