Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Vier mense wat Sondagmiddag 17 Februarie in die voortuin van die Travel Lodge in die hoofstraat gebraai het, het ternouernood ontkom toe 'n vragmotor met 'n tenkwa deur die heining gebars het.
Jacques Marais, Franco de Aguiar, Eric Nel en Renee Jacobs het gesellig by die braaiplek gestaan en kuier toe De Aguiar die vragmotor op die tuin sien afpyl.
"Ek het net geskree 'trok!', toe is dit al in die tuin," vertel hy. "Ek het teen die hek gehang en die brandende kole van my klere afgeklap. Ons het binnetoe gevlug."
"Toe Franco skree 'trok!' was dit al op ons," vertel Marais. "As ek nie eenkant toe gespring het nie, was ek dood. Eric het die antie (Jacobs) weggeruk." Behalwe vir 'n skraap op Jacobs se been, is almal ongedeerd.
Madeleine Bresler, wat die afgelope vier jaar die bestuurder is, vertel dat syself, haar ma Marlene en dogtertjie Gussie op die eerste vloer was waar hulle woon, toe hulle die slag hoor. "Ek was besig om aartappels te braai," het 'n geskokte Marlene gesê.
"Ek het die slag gehoor toe die vragmotor 'n pilaar van die tuinmuur tref. Ek het dadelik met die trappe afgehardloop om te kyk of iemand beseer is. Ek het in die vragmotorkajuit gekyk, maar geen bestuurder gesien nie, net dat die handrem nie opgetrek is nie."
Die bestuurder, 'n werknemer van 'n sakeman op die dorp, het op die toneel aangehardloop gekom. "Hy het gesê hy het net gou stilgehou om oorkant die straat by U-Save in te hardloop. Die vragmotor het op eie stoom straat-af geloop."
Die tenkwa staan in die tuin nadat dit sonder handrem sowat 50 m hoër op in die staat geparkeer is en in die straat af geloop het.
Volgens Bresler het Martin de Villiers, 'n vriend, asook 'n inwoner die vuur geblus om te voorkom dat die vragmotor aan die brand slaan. "Hessequa-brandweer en 'n ambulans was gou op die toneel."
Bresler se voertuig wat in die straat voor die gebou parkeer was, is beskadig deur nog 'n pilaar wat omgeval het. "Die man se werkgewer het onderneem om vir die skade te betaal."
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel hier: Wegholtrok maak moles
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'