HESSEQUA NUUS - Dronkbestuur
• 'n Groep leerders van Heidelberg is Maandagoggend ontnugter toe hulle besef 'n provinsiale verkeersbeampte gaan hulle tot by hul skool neem nadat die skoolbus op die N2 afgetrek is.
Die situasie het ontstaan nadat die bus vir 'n roetine-ondersoek afgetrek is en daar bevind is dat die bestuurder, 'n 46-jarige inwoner van Slangrivier, onder die invloed van alkohol is. Hy is op die toneel getoets en aan die polisie oorhandig, wat 'n klag aanhangig gemaak het. Bloedmonsters is geneem en die bestuurder is op eie verantwoordelikheid vrygelaat. Hy is gewaarsku om op 26 Julie in die plaaslike hof te verskyn.
Diefstal
• Peter-John April (34) het Maandag 4 Februarie op 'n aanklag van ontvangs van gesteelde eiendom in die hof verskyn, waartydens hy skuldig gepleit het. Hy is skuldig bevind en tronkstraf van 12 maande opgelê wat samelopend met sy huidige opgeskorte vonnis uitgedien sal word.
• Bradley Pieters het op twee klagtes van huisbraak verskyn nadat hy glo by twee wonings op Slangrivier toegang sonder toestemming verkry het. Die saak is tot Maandag 11 Februarie uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Poging tot moord
• Eduan Philander (32) het Maandag 4 Februarie op twee aanklagte verskyn. Die saak van poging tot moord, wat spruit uit 'n aanval op 'n vriend Saterdag 19 Januarie, is tot Vrydag 8 Februarie uitgestel. Die aanval het glo by 'n taverne in Andries du Toitstraat na 'n woordewisseling gebeur, waartydens die slagoffer van agter in die long gesteek is. Philander het ook op 'n aanklag van bestuur onder die invloed van drank verskyn. Die saak is tot 5 Maart uitgestel.
Gesinsgeweld
• Jacobus Marais het op 'n aanklag van die verbreking van 'n gesinsgeweldbevel verskyn. Die saak is tot Vrydag 8 Februarie uitgestel vir die indien van 'n korrektiewe verslag. Hy bly in aanhouding.
Aanranding
• Phillip September (52) en Jonathan Tieties (19) het Maandag 4 Februarie op 'n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die hof verskyn. 'n Windbuks was glo by die voorval betrokke. September is op borgtog van R500 vrygelaat, terwyl Tieties op eie verantwoordelikheid vrygelaat is. Hulle verskyn weer op 5 Maart.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'