Update
HESSEQUA NUUS - Die verwoestende brand in die Langeberge, tussen Riversdal en Swellendam het 'n brandbestryder se lewe geëis.
Melio van Rooy (26), ook bekend as Nelio, 'n lid van die Overberg-brandweerdienste was Sondag, 31 Januarie enkele kilometers van sy familiewoning in Barrydale besig om die brand te bestry toe die onvoorspelbare wind rigting verander en die verswelgende vlamme reguit op hom afgestuur het.
Sy brandweerhoof, Reinard Geldenhuys het gesê Van Rooy het sy bes gedoen om van die vlamme te vlug, maar hy kon nie daarin slaag nie.
Die brand het Maandag, 25 Januarie by Brandrivier, aan die onderkant van die Sleeping Beauty se slaapplek aan Barrydale se kant van die berg begin weens 'n vonk afkomstig van tuimelende klippe. Eden-rampbestuur het na die toneel gehaas, maar die warrelende wind en erge hitte was nié in hul guns nie.
Die brand wat sedert sy ontstaan bekendheid verwerf het as die Brandrivier-brand het binne oomblikke sy spoor, rigting Barrydale uitgebrand en digte rookwolke oor Riversdal en omgewing gelaat.
Brandspanne is om die beurt vervang en moes die vlamme direk in die gesig staar, omdat Eden-rampbestuur se lugsteun onsuksesvol was in hul poging om die vlamme onder beheer te kry. Die lugsteun is minder as vier ure na aankoms onttrek.
Overberg-brandbestryders het die stryd oorgeneem soos die vlamme na rigting Swellendam gewoed het. Die Wes-Kaapse Working on Fire (WoF), Swellendam-rampbestuur- en Hotshot-spanne is gestuur om te help om die woedende brande te onderdruk. Twee spotters en twee AT-803 watervliegtuie het ook gehelp om die brand te bombardeer.
WoF het Dinsdag nog drie spanne vanaf Swellendam, Bredasdorp en Riversdal na die brand gestuur. Nog twee brandweerwaens om Cape Nature en die Overberg-distriksmunisipaliteit te help om die brand te bestry is ook tot die vegters bygevoeg.
Met Van Rooy nie ver van die rooidood Brandrivier-bedreiging nie, was hy 'n logiese keuse om vinnig by die brandpunt uit te kom. Min het hy geweet sy groet in haas, was vir oulaas. Sy familie wat deur sy brandweerhoof as mense wat diep spore in Barrydale getrap het, het nie geweet sy spore sou by die rooidood eindig nie.
Medelye stroom in na sy tragiese dood. Minister Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake was een van die eerste wat sy medelye uitgespreek het.
Behalwe vir Geldenhuys se saluut het die Wes-Kaapse WoF algemene bestuurder, Melany Duthie-Surtie ook haar medelye teenoor Van Rooy se familie en vriende uitgespreek.
Vlamme en digte rook is deur niks gestuit nie. Foto: Christo Vermaak
Rookwolke was binne minute van naby Stilbaai sigbaar toe die brand agter die Langeberge ontstaan het. Foto's: Christo Vermaak
Die vlamme, soos dit Barrydale toe beweeg het. Foto's: Christo Vermaak
Vorige artikels:
- Brandrivier-brand eis sy tol
- Berg brand toe klippe rol
- 2 Wonings in gevaar met bergbrand
- Lugsteun gereed om brand te tem
- Bergbrand by Brandrivier
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'