HEIDELBERG NUUS - Binne 10 dae het Heidelberg-polisie se D-skof, onder leiding van sers. Daniël Moos weer 'n groot slag geslaan toe hulle beslag gelê het op dwelms ter waarde van ongeveer R500 000 en twee persone in hegtenis geneem het.
Dié keer is 'n 24-jarige vrou en 'n 32-jarige man van Mosselbaai in hegtenis geneem.
Beide was passasiers in 'n taxi op pad na Mosselbaai toe hulle op Donderdag 5 April om ongeveer 01:35 in Geldenhuysweg gearresteer is.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder het hulle 'n wenk ontvang dat daar moontlik dwelms in die taxi kon wees. D-skof het tydens hul patrollie die voertuig opgemerk en die bestuurder versoek om af te trek.
Die passasiers en hul bagasie is deursoek waarop daar op ongeveer 2 000 Mandrax-tablette, wat in die man se besit gevind is en 2,014 kg tik in die vrou se besit, beslag gelê is.
Die tik was in twee Jungle Oats bokse verpak en die Mandrax-tablette was in 'n plastieksak versteek. Beide is op die toneel gearresteer.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel staan by die dwelms waarop beslag gelê is.
Die man, 'n Nigeriese burger en die vrou het later die oggend in die hof op Swellendam op aanklag van handel in onderskeidelik Mandrax en tik verskyn.
Hulle het op Dinsdag 10 April in die plaaslike hof vir aansoek om borgtog verskyn, maar teen druktyd was dit nog nie bekend of dit toegestaan is nie.
Windvogel het weereens 'n waarskuwing aan alle voornemende dwelmsmouse gerig dat streng teen hulle opgetree sal word. Hy het sy dank en waardering teenoor Moos en sy span uitgespreek vir hul harde werk om dié euwel hok te slaan.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'