STILBAAI NUUS - Die dorp se argeologiese vereniging het 'n besige jaar agter die rug.
In die vereniging se jongste nuusbrief verskaf die voorsitter, Izak Venter, besonderhede oor die navorsing oor fossielspore en mensgemaakte patrone waaraan dr. Jan de Vynck saam met ander kenners deelneem.
Volgens Venter bevat die Geelkransgebied oos van Stilbaai talle vondse soos versteende spore van seeskilpadjies wat al uitgesterf het.
In dieselfde gebied kan rotse met patrone wat volgens koolstofdatering deur mense in die tydperk tussen 158 000 en 70 000 jaar gelede gemaak is, gesien word.
Die vereniging het ook 'n groot aandeel in die finalisering van die Wes-Kaapse regering se projek om argeologiese en paleontologiese toerismeroetes te open. Dié projek sal 'n groot inspuiting vir Hessequa-toerisme bring.
Om die jaar mee af te sluit word nog 'n praatjie deur prof. Christopher Henshilwood, asook 'n uitstappie langs die Goukourivier beplan. Die datum van die praatjie sal nog gefinaliseer word, maar die uitstappie sal op 7 Desember plaasvind.
Belangstellendes kan 'n e-pos aan argeologiesevereniging.hva@gmail.com stuur. Die e-pos moet jou kontaknommer en aantal persone wat dit wil bywoon, bevat.
Vermeld ook of jy 'n lid van die vereniging is en of jy bereid sal wees om passasiers saam te neem na die uitstappie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'