HESSEQUA NUUS - Die Wild Rescue reservaat op Klipfontein, tussen Stilbaai en Riversdal het onlangs 'n nuwe tuiste aan 23 bergskilpaaie gebied.
Die skilpaaie was op 'n plaas buite Worcester, by 'n dame wat volgens direkteur Gill Simpson al die afgelope 20 jaar skilpaaie in nood red en huisves.
Sy moes egter Kaap toe verhuis en die troppie sou sonder heenkome sit. Na soveel jare tussen mense sou die skilpaaie nie weer in die natuur aanpas nie en kan ook moontlik skadelike patogene aan wilde skilpaaie oordra. "Sy was desperaat bekommerd oor haar diere en was baie verlig toe ons instem om hulle te neem," sê Simpson .
Mishandeling
Heelwat van die diere toon tekens van mishandeling deur mense. "Hulle het gate deur hul doppe, wat mense gewoonlik maak om hulle vas te bind voor hulle doodgemaak word vir kos. Ander se doppe was deur klippe gebreek en sommiges was uit gevaarlike plekke, byvoorbeeld waar masjinerie werk, weggeneem."
Simpson borrel behoorlik van opgewondenheid wanneer sy oor dié nuwe toevoegings tot hul wildfamilie gesels. "Ons moes in drie weke alles vir hulle reël, van permitte kry tot skuilings vir hulle bou," sê sy.
CapeNature stel heelwat vereistes vir die aanhou van wilde diere en Simpson vertel hulle het in die kort tyd hard saam met die beamptes gewerk om aan alles te voldoen.
Hulle wissel in ouderdomme en die jongste een is ongeveer vyf jaar oud. 'n Ander een wat Ouma gedoop is, was 45 jaar saam met die ouma van die gesin op die plaas. Dié skilpad se ouderdom word op 60 jaar geskat. Sy weeg 26kg en is 54.5cm lank. "Sy ken haar naam en kom nader as mens roep 'Kom Ouma, kom Ouma!'"
Aanpassing
Simpson sê die skilpaaie pas goed aan en party het reeds van hul nuwe skuilings begin gebruik maak. Ander bly onder die bosse, maar almal is weens die koue weer nog in oorwinteringsgewoontes en beweeg nie veel nie.
Mannetjies en wyfies word apart gehou, want teling word nie toegelaat nie. "Skilpaaie is wilde diere, nie troeteldiere nie en mense moet dit nooit uit die oog verloor nie," waarsku Simpson.
Die publiek is welkom om Wild Rescue te besoek en toegang is gratis, hoewel donasies altyd welkom is. Simpson kan by 078 875 5776 gekontak word om 'n besoek te reël. Dis noodsaaklik om vooraf 'n afspraak te maak en alle Covid-19 regulasies geld op die terrein.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'