HESSEQUA NUUS - Een uit vyf tieners probeer een of ander stadium in lewe selfdood pleeg. Minstens 10% van alle onnatuurlike sterftes by jong mense is selfdoodverwant, volgens navorsing wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad gedoen is.
Wêreldwyd pleeg 'n miljoen mense elke jaar selfdood. In Suid-Afrika neem 23 mense elke dag hul eie lewe; 230 probeer om hulself dood te maak.
Altesaam 10 027 jeugdiges het aan die MNR (Mediese Navorsingraad) se YRBS-peiling (Youth Risk Behavior Survey) deelgeneem om die selfdood-risikogedrag van kinders en tieners te bepaal.
Hulle het verskeie redes vir die toename in die voorkoms van selfdoodverwante gedrag uitgewys: verlies aan sosiale samesyn, ineenstorting van die tradisionele gesinsstruktuur, groeiende ekonomiese onstabiliteit, 'n toename in oorwegend depressiewe versteurings, onregverdige verwagtings, oordrewe druk, die skuldgevoelens wat daaruit spruit en dikwels tot depressie lei.
Risiko's
- 24,5% van tieners het al hartseer en moedelose gevoelens ervaar;
- 21,4% van tieners het al selfdood oorweeg;
- 16,8% het al 'n plan beraam om selfdood te pleeg;
Die grootste risikogroep is tieners tussen 15 en 19 jaar oud, gevolg deur 10 tot 14-jariges. Selfdood by kinders onder 10 jaar het die afgelope 15 jaar verdubbel. 40% van alle geslaagde selfdoodpogings gebeur naweke, tussen 19:00 en 20:00.
Die snellers
Omvattende navorsing oor die voorkoms van selfdood in Suid-Afrika wys die volgende moontlike snellers uit: skielike veranderinge in gedrag, doellose optrede, gemoedswisseling (uitbundige vreugde versus 'n eienaardige kalmte), sosiale ontrekking, die weggee van waardevolle persoonlike besittings, 'n ongewone beheptheid met dood of selfdood, afskeid van geliefdes en vriende en voorbereiding vir die toekoms.
Die tekens
Hoewel alle tieners wat selfdood oorweeg of pleeg nie vooraf hul intensies toon nie, is daar meestal tekens:
- 'n Drastiese verandering in voorkoms;
- 'n Drastiese verandering in selfsorggewoontes;
- Buierigheid, vreugde-, woede- en tranebuie;
- 'n Verlies aan selfvertroue;
- Trae belangstelling in alledaagse leefwyse en tydverdrywe;
- Teruggetrokkenheid;
- Moegheid en rusteloosheid;
- Slaap te veel óf slaap te min;
- Eetlus verminder of vermeerder;
- Gewig verminder of vermeerder;
- Impulsiewe optrede;
- Skielike deelname aan gevaarlike, selfbeserende aktiwiteite;
- Skielike uitermatige senuagtigheid, geïrriteerdheid en heftigheid.
- Tekens van drank- en/of dwelmmisbruik;
- Onrealistiese gedagtes oor en verwagtings van die toekoms.
- Hulpbronne: Die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep se selfdoodnoodlyn bied elke dag gratis hulp deur professionele beraders; 24 uur-hulplyn (0800 567 567, SMS 31393, Twitter: @TheSADAG. Aanvullende bronne: www.sadag.org/
Verwante artikel: 'Help: Ek wil léwe!'
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'