Update
HESSEQUA NUUS - Tienerselfdood is 'n desperate hulpkreet. Die asem waarna tieners smag, skuil dikwels in selfbesering.
"Ek het gevoel ek pas nêrens in nie. Ek was teruggetrokke en ongelukkig. Ek het gevoel ek was 'n teleurstelling vir ander, 'n mislukking in my eie oë. Ek het keer op keer my polse gesny, maar ek was altyd bly wanneer iemand my betyds gekry het. Ek het uiteindelik hulp gekry; medikasie vir depressie en sielkundige berading. As ek nou terugdink, besef ek hoe stupid ek was om te dink dood sou beter wees. Maar ek onthou elke keer wanneer ek my eie bloed gesien het, het ek gevoel: ek lewe!" onthul 'n man wat as 16-jarige tienerseun selfdood wou pleeg.
Statistiek kan die voorkoms daarvan bereken, maar die werklike omvang van die impak wat dié gedrag op mense het, is onmeetbaar.
Dis 'n onnodige tragedie: hetsy vir mense wat selfdood probeer en misluk of daarin slaag, of mense wat daardeur geraak word: geliefdes wat agterbly en skuldig worstel omdat hulle nie betyds kon ingryp nie.
Mense beskou selfdood as dapper, lafhartig, selfsugtig en sondig. In versagting verkies gedragsielkundiges om eerder na selfmoord as selfdood te verwys.
Die hoë selfdoodsyfer, nou selfs erger sedert die uitbreek van die koronavirus is verbysterend.
Hoekom?
Volgens die jongste navorsing deur SADAG (Suid-Afrikaanse depressie- en angsgroep) het tieners se geestelike gesondheid 'n knou weens die Covid-19-pandemie gekry - veral omdat hulle nou 'n onbekende wêreld navigeer te midde van aanlyn- en onderbreekte onderrig, sosiale vervreemding, verlies van vryheid en die gepaardgaande ongerief en trauma wat daaruit spruit.
Verhoudingsprobleme, kwellende gesinskwessies, geweld en trauma, emosionele teistering en seksuele mishandeling, 'n familiegeskiedenis van depressie of selfdood, 'n gevreesde of ongeneeslike siekte, drank- of dwelmafhanklikheid en vorige selfdoodpogings is ander moontlike oorsake, volgens navorsing van SADAG (Suid-Afrikaanse depressie- en angsgroep).
Daar is dikwels ook 'n toename in selfdoodgevalle met die verandering van die seisoene.
Kliniese sielkundiges meen mense is biologies en evolusionêr geprogrammeer om te oorleef. Elke mens het egter 'n opgeedrempel. Al klink dit hoe radikaal; vir hulle is selfdood tussen die talle ander keuses die enigste uitweg om hulself van hul omstandighede te bevry. Dit is dikwels hulpkreet: "Help my: ek wil hieruit!"
Hulp
Kinders hoef nie aan hulself te twyfel en selfdood te pleeg omdat hulle nie aan hul eie, aan hul ouers of ander se verwagtinge voldoen nie. Neem alle selfdoodtekens en -dreigemente ernstig op. Hou kinders dop, praat met hulle daaroor en kry onmiddellik hulp.
Selfdood is nie eksperimentering met lewe nie.
Dis 'n afspraak met die dood.
Vorige artikel: Hulp is 'n oproep ver
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'