HEIDELBERG NUUS - Gavin Pietersen, oud-Heidelberger wat tans in Kraaifontein woonagtig is, het besluit dat hy graag 'n verskil in kinders van sy tuisdorp se lewens wil maak.
Pietersen het Vrydag 9 Maart die leerders en personeel van Vondeling Primêr verras toe hy met lekkernye vir al die leerders, 10 paar skoene en 'n trui by die skool opgedaag het.
Volgens hom het hy op verskeie plase grootgeword en moes hy baie kilometers kaalvoet na die skool aflê.
"Ek was 13 jaar oud toe ek my eerste paar skoene gekry het," vertel hy. Pietersen het die leerders aangemoedig om bo hul omstandighede uit te styg. "Jou lot word nie bepaal deur die skoene wat jy dra nie, maar deur die stappe wat jy in die lewe neem."
Hy het die leerders ook aangemoedig om hulle van dwelms en drank, mekaar af te knou, vroeëre skoolverlating en tienerswangerskap te weerhou.
Die prinsipaal, Zandra Davids het Pietersen bedank vir sy bydrae tot die opheffing van hul leerders.
Carmen Hill (onderwyser) en Gavin Pietersen staan by haar gr. R-klas.
Gavin Pietersen spreek die leerders toe.
ARTIKEL & FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Heessequa nuus'