SLANGRIVIER NUUS - Met hul eie agtergrond wat hulle kinders moes deurmaak as motivering, het Emily en haar man, Stephanus Kistoor besluit dat hulle iets daadwerkliks, veral tydens die Kersseisoen wil doen om iets in hul gemeenskap terug te ploeg.
Vier jaar gelede het Emily 'n droom gehad dat sy iets moes aanpak om mindergegoede kinders in haar buurt met 'n Kersete en geskenke te trakteer. Emily, wat in Kuilsrivier werksaam is, het dit met haar man bespreek en hulle het besluit om 'n sopkombuis een keer per week vanaf hul huis te bedryf.
Dit, terwyl sy nie tuis was nie, maar met 'n baie bereidwillige buurvrou, Freda Pretorius en familielede, word dit gedoen. Die afgelope vier jaar hou hulle ook 'n Kersete vir nagenoeg 120 kinders by hul huis.
Buiten die kinders wat ou Kersdag 'n viergangmaaltyd kon geniet, is 'n paar senior burgers ook met heerlike kos en versnaperings bederf.
Vanjaar was ook 'n uitsondering omdat hulle 'n jong seun as Kersvader gebruik het om die geskenkpakkies aan die kinders en bejaardes te oorhandig.
Emily Kistoor agter in die middel saam met van haar bure en familie wat hand bysit om die sopkombuis en Kersete suksesvol te maak. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'