Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Pat Beukes gee met 'n oop hart en hand.
Sy en haar man Len het 35 jaar gelede uit Kaapstad hierheen verhuis en 'n drankwinkel en naasliggende kontantwinkel geopen.
Sedert Len haar vier jaar gelede ontval het, bestuur sy self die twee winkels op die perseel wat oor die dorp tot doer by die berge uitkyk.
"Ek hou van gee, en ek gee graag en dikwels," vertel sy in 'n raar onderhoud met Suid-Kaap Forum.
"Ek laat nooit foto's neem nie, maar vandag mag jy maar," het sy Vrydag 5 Julie gesê toe sy R2 400 aan die ACVV oorhandig. Die geld is deur Livvy Paulsen, gemeenskaps-ontwikkelingsbeampte, en Martha Taute, maatskaplike hulpwerker van die organisasie ontvang.
Sy wil hê die geld moet gebruik word om kospakkies op te maak wat aan gesinne uitgedeel gaan word. "Julle moet self besluit wie dit die nodigste het," het sy vir hulle gesê.
Vir kerke en skole gee sy geld. "Soms is daar 'n skool wat geld nodig het vir 'n sporttoer vir die kinders, dan gee ek graag. Vir bejaardes gee ek kospakkies."
Sy vertel wanneer kinders wat by die winkels in Versveldstraat verby stap, roep sy hulle nader. "Ek sê vir hulle, kom hiernatoe, hier's vir jou ietsie. Partykeer gee ek geldjie om iets lekkers mee te koop, maar meestal is dit klere."
Haar dogter Laurencia, wat in Kaapstad woon, het twee seuns wat in die laerskool is. "Sy bring gereeld klere hier aan wat nog pragtig is - partykeer dink ek sy koop goed om dit te kan uitdeel!
Maar nou ja, sy is seker maar haar ma se kind..." vertel sy terwyl sy skoolhemde en -broeke aan die twee ACVV-dames oorhandig.
Suid-Kaap Forum het Dinsdag saamgegaan toe twee van die agt pakkies ter waarde van R300 elk afgelewer is. Die eerste ontvanger was Elise Booysen wat in 'n arbeidershuis op 'n plaas in die Oakdale-omgewing woon. Booysen en haar twee kinders ontvang 'n staatstoelaag en sy was verheug oor die kospakkie wat onder meer meel, olie, suiker, blikkieskos, toiletware en toiletpapier ingesluit het.
Mariana Baartman van Riverville, wat tans drie kinders in pleegsorg het en 'n gestremde vrou versorg, het ook 'n kospakkie ontvang.
Kyk 'n video hieronder:
Livvy Paulsen oorhandig een van die kospakkies wat deur Pat Beukes geborg is aan Elise Booysen wat op ’n plaas in die Oakdale-omgewing woon.
Pat Beukes oorhandig skoolklere, wat haar dogter Laurencia uit Kaapstad gestuur het, aan Martha Taute (links) en Livvy Paulsen van die ACVV.
Lees 'n vorige artikel hier: Pat gee sodat mense kan eet
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'