ALBERTINIA NUUS - Inwoners in die streek van Buisplaas en Herbertsdale het die afgelope jaar probleme ondervind omdat hulle blykbaar deur die boere verhinder word om vis in die Gouritzrivier te vang.
Van die inwoners sê dat die boere langs die rivier beweer dat die rivier aan hulle behoort. Icosa het besluit om die inwoners te verteenwoordig en het 'n saak gaan maak, wat Donderdag 10 Mei in die plaaslike landdroshof aangehoor is.
"Wat belaglik is, is dat baie van die inwoners permitte het wat deur die departement van landbou en seevissery uitgereik is. Hoe kan permitte dan uitgereik word as dit onwettig is?" het Dawid Kamfer, provinsiale leier van Icosa in die Wes-Kaap gesê.
Na die uitreiking van dagvaardings om boetes te betaal, het Kamfer hulle aangeraai om dit nie te betaal nie, omdat hulle regsverteenwoordigers die saak in die hof gaan baklei. "Ons gaan hierdie saak tot in die hoogste hof baklei. Waar kan 'n God gemaakte rivier aan mense behoort?"
Die saak is uitgestel vir ondersoek en sodat die aangeklaagdes se regsverteenwoordigers hulle vir die saak kan voorberei.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'