TUINROETE NUUS - Die nasionale kushengelkampioenskappe vir die B- en ontwikkeling afdelings, aangebied deur Eden Kushengel Assosiasie, loop vandag, 18 Februarie tot 'n einde.
Ongeveer 155 hengelaars van die meerderheid provinsies ding mee.
Volgens Thomas Heath, voorsitter van Eden Kushengel en ook sameroeper van die kampioenskappe, het hulle die eerste dag in Boggomsbaai gehengel.
Dinsdag was dit Lappiesbaai in Stilbaai se beurt en Woensdag was 'n rusdag. Donderdag het hulle op Groot- en Klein Brak gehengel en vandag sluit hulle die week op Boggomsbaai af.
Dis nie net die kampioene wat gekroon word nie, maar hulle kies ook 'n nasionale presidentspan, sowel as nasionale ontwikkelingspan. Daar is dus baie op die spel en die hengelaars hoop dat die weer en omstandighede sal saamspeel.
Die assosiasie en hengelaars maak seker dat hulle die omgewing en strande skoon hou waar hulle ookal hengel en hulle beskerm ook die visbronne, sodat hulle kinders en kleinkinders ook die voorreg sal hê om langs die viswater te ontspan. Vis word so min moontlik getraumatiseer en so vinnig moontlik teruggegooi na dit gemeet en geweeg is.
Vir die wat oorweeg om op daardie vlak te hengel, net 'n paar syfers. Die gemiddelde stok gaan jou tussen R6 000 en R8 000 kos en die katrol kom in teen ongeveer R5 000. Dan is daar nog hoeke, sinkers, vislyn, aas en deesdae ook 'n gemaklike dikwiel karretjie waarmee jy alles op die strand kan karwei.
Ernstige hengelaars sal egter vir jou vertel dat die genot wat jy uit hengel kry oor en oor opmaak vir die geld wat jy spandeer.
Visvangstories is oor die jare heen 'n teiken vir baie visvang grappies, maar hierdie hengelaars weeg en meet presies en het ook gewoonlik foto's wat hulle stories staaf.
Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'