STILBAAI NUUS - Drie fietsryers, met al hul bagasie en kamptoerusting op fietse, is Woensdag 18 Januarie in dié kusdorp opgemerk.
Dit was duidelik dat hulle met die fietse toer.
Die volgende dag is hulle by die Stilbaai-bootjie by die N2-afrit opgemerk en by nadere kennismaking het dit duidelik geword dat Alexander, Vadim en Linar (hulle wou of kon nie hul vanne verskaf nie) drie Russiese toeriste is.
Hulle het na Port-Elizabeth gevlieg en op 11 Januarie het hulle daarvandaan vertrek om met fietse kuslangs te toer om teen 25 Januarie in die Kaap te wees.
Alexander is van Moskou, Vadim van St. Petersburg en Linar is van Kazan. Linar beplan ook om die terugtog van Kaapstad na Port Elizabeth saam met agt ander ryers aan te pak, maar dié keer gaan hulle dit binnelands en oor die bergagtige gedeeltes doen.
Dit was glad nie maklik om met hulle te kommunikeer nie, aangesien hulle nie Engels magtig is nie, maar danksy die tegnologie en 'n vertalingsprogram op Google, kon 'n paar stukkies inligting verkry word.
Hulle het die aand op Lappiesbaai op die strand geslaap.
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'