Volgens 'n ontstelde plaaslike inwoner groei die vullishope by die dag by die systraatjie uit Albertynstraat, asook aan die eindpunt van Reitzstraat - beide strate wat aan stappers toegang tot die rolbal-, jukskei- en tennisbane verleen. "Ek het ons gaste gedurende die vakansie op 'n besigtigingstoer deur die dorp en ook na die rolbalbane geneem.
Die mense was geskok om die rommelstrooiing daar te sien en dit was 'n groot verleentheid vir my, om die minste daarvan te sê," het die inwoner, wat verkies om anoniem te bly aan Suid-Kaap FORUM gesê. Volgens hom doen die munisipaliteit blykbaar niks daaraan om dit op te ruim nie, want die vullis word net meer. Die koerant het die persele op Vrydag, 18 Januarie besoek en gevind dat selfs een van die vertrekke van die geboutjie wat op die gronde staan, vol vullis lê en die reuk daarin is feitlik onuithoudbaar.
Munisipale kommentaar:
Me. Marina Vermeulen, bestuurder: regsdienste en wetstoepassing van Hessequa munisipaliteit het op navraag gesê dat sy die aangeleentheid na die relevante tegniese departement verwys.
"Die beskermingsdienste departement sal poog om die persoon(e) wat onwettig stort, vas te trek en te beboet," het sy gesê.
Hierdie foto's is geneem op Vrydag, 18 Januarie by die systraatjie uit Albertynstraat in Riversdal wat toegang na die rolbalbane verleen.