RIVERSDAL NUUS - Die krag wat Sondagaand, 30 Mei 'n paar keer kort na mekaar af en toe weer aangegaan het, het heelwat Riversdal-inwoners warm onder die kraag gehad.
"Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie," het 'n inwoner aan Suid-Kaap Forum gesê.
"Dit is erg nadelig vir 'n mens se toerusting, soos jou yskas, televisie of mikrogolfoond. Wie gaan dit vir my vervang as dit breek as gevolg van die onderbrekings?"
Hy het bygevoeg dat 'n mens darem op beurtkrag voorbereid is en jou toerusting self kan af- en aanskakel, wat skade kan voorkom.
By navraag het Didi Budricks, munisipale woordvoerder gesê dat 'n beplande onderbreking van die elektrisiteitstoevoer op 30 Mei vanaf 08:00 tot 17:00 geskeduleer was om elektriese infrastruktuur te vervang.
"Dit sal die effektiewe werking van ons 11kv-netwerk verseker."
Die geaffekteerde gebied was Kwanokuthula, die begraafplaas, Garden Route-distriksmunisipaliteit se munisipale store, asook Henque Waste.
"Die werk was teen 17:00 afgehandel en die kragtoevoer herstel, maar omstreeks 18:00 is die munisipaliteit in kennis gestel dat die krag weer af is. Na ondersoek is gevind dat die fout geïsoleer is op die Kwanokuthula-voerder en dat dit deur 'n nuwe 11kv kabel veroorsaak is wat gebreek het."
Die munisipaliteit se tegniese personeel het die kragtoevoer na Kwanokuthula om 00:10 herstel. "Die dip in die elektrisiteitstoevoer was dus veroorsaak deur die nuwe kabel wat gebreek het, sowel as die skakelwerk tussen substasies om die fout te isoleer.
"Dit hou nie verband met verlede Woensdag se werk nie, aangesien enige skakelwerk op enige netwerk 'n dip in die elektrisiteitstoevoer sal veroorsaak as gevolg van vrag wat geskuif, vrag wat teruggesit word op die netwerk, kabelfoute en nog meer," het sy afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'