Update Video
RIVERSDAL NUUS & VIDEO - 'n Botsing op die hoek van Hoofweg en Kerkstraat op Vrydag 22 Maart het die fokus opnuut op die kruising in die middedorp laat val.
Tydens die voorval, wat omstreeks 16:30 plaasgevind het, was Katherine Februarie (68) in 'n wit Opel Astra in Kerkstraat onderweg toe André du Preez (51) na bewering nagelaat het om by die stopteken in Hoofstraat stil te hou.
Sy Toyota Hilux-bakkie het die Astra in die kruising teen die passasiersdeur getref. Februarie het geringe beserings opgedoen en is in die hospitaal vir waarneming opgeneem. Sy is later dieselfde aand ontslaan. Du Preez word van roekelose en nalatige bestuur aangekla.
Suid-Kaap Forum het Donderdag 28 Maart 'n video-opname van verkeer by die kruising gemaak en bevind die meeste motoriste hou nie by die stoptekens stil nie.
Afleweringsvoertuie wat vanaf die N2 se rigting in Hoofweg af ry, maak ook dikwels hier 'n U-draai om in die rigting van die N2 terug te ry. Die video is aan die Hessequa-munisipaliteit voorgelê.
"Verskerpte verkeersoptrede sal deur die wetstoepassingsdepartement uitgevoer word om die beweerde oortreding van verkeerstekens te ondersoek," het Johan Jacobs, munisipale bestuurder, op 'n navraag reageer.
"Verkeerskalmerings-maatreëls word toegepas nadat behoorlike ondersoeke deur die wetstoepassingsdepartement uitgevoer is. Dit sal verkeerstellings insluit, afhangend van beskikbare voorsiening in die betrokke jaar se begroting."
Volgens Jacobs is dié roete 'n geproklameerde provinsiale pad en finansiering ressorteer onder die begroting van die Wes-Kaap departement openbare werke en paaie se tak: paaie.
Adneshel Voss, hoof: beskermingsdienste en Chris Onrust, direkteur: gemeenskapsdienste het reeds 'n ter plaatse ondersoek saam met Schalk Carstens (provinsiale padingenieur) gedoen oor die beveiliging van twee kruisings in Hoofweg.
Dit sluit die ontwikkeling van die kruising by SuperSpar (Hoofweg en CR Swartstraat) vir die oprigting van 'n vierrigting-stopteken in, asook die oprigting van 'n verkeerslig-gereguleerde kruising by Hoofweg en Kerkstraat in. Carstens het daarvoor ingestem.
"Daar is ook aangedui dat 'n verkeersirkel dalk 'n beter en veiliger keuse kan wees," het Voss gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Kort Riversdal dalk 'n verkeerslig?
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'