HESSEQUA NUUS - Sosiale media het 'n gerieflike uitweg vir mense geword waar hul oor dienslewering - of die gebrek daarvan - by besighede, staatsinstansies soos die polisie en munisipaliteite kan kla.
Sommige van hierdie instansies en besighede is dikwels nie bewus van die probleem nie, omdat dit nooit aangemeld is nie.
Volgens die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, ondervind hulle dié neiging dikwels en wil hulle 'n versoek aan die gemeenskap rig om hul klagtes direk aan die munisipaliteit te rapporteer.
'n Foto wat 'n inwoner van Stilbaai op sosiale media geplaas het waar rommel deur bosslapers gelos is, is deur 'n ander persoon per e-pos aan die munisipaliteit aangestuur - wat een van 'n paar korrekte maniere is om dit te doen - en daar is dadelik werk van gemaak om dit te gaan opruim.
"Die munisipaliteit, in samewerking met die plaaslike polisie en belanghebbendes neem positiewe stappe om die kwessie van hawelose bedelaars, wat 'n oorlasfaktor skep, op te los," verduidelik hy.
"Die voorval met gepaardgaande foto's is Vrydag 6 Oktober deur die e-pos-opsie aangemeld en ontvangserkenning daarvan is dieselfde dag gestuur.
"Die klagte is Maandag 9 Oktober aan die tegniese afdeling vir onmiddellike aandag geallokeer."
'n Skoonmaakspan is dieselfde dag uitgestuur, asook lede van beskermingsdienste om moontlike brandgevare te ondersoek.
Munisipale beamtes besig om op te ruim.
Formele munisipale kommunikasie kanale verseker dat 'n unieke verwysingsnommer toegeken word om die vordering van die klagte of navraag op die stelsel te volg.
Deur die korrekte kliëntedienskanale te volg, kan aksie dadelik geneem en die nodige terugvoer verskaf word.
Hoe om te kla
- Besoek die munisipale kantore
- Skakel die munisipaliteit by 028 713 8000
- E-pos die betrokke departement
- Rig 'n skrywe aan die munisipale bestuurder by Posbus 29, Riversdal, 6670.
Die volgende inligting moet verskaf word
- Naam, van en kontaknommer
- Waar, hoe en/of wat die probleem is
- Dorp en adres van probleem
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'