STILBAAI NUUS - Sal jy elke maand kilometers op 'n motorfiets aflê om 'n glimlag op 'n minderbevoorregte kind se gesig te kan sit?
Dis die doelwit waartoe die New Apostolic Church Motorcycle Association (NACMA) hulself verbind het.
Hul kalender word reeds aan die begin van die jaar uitgewerk sodat daar elke maand besoek aan 'n gemeente van die kerk gebring kan word. Twee van hierdie uitreikritte of 'fellowship rides' word vir 'n hele naweek beplan en so het die geesdriftige groep mense die naweek van 18 en 19 Mei in Stilbaai aangekom.
Hoewel hulle hoofsaaklik na Nuwe Apostoliese gemeentes uitreik, is die komiteelede vinnig om te benadruk dat die geldelike skenkings, asook klere en ander items wat deur die gemeente geskenk word, aan die hele gemeenskap uitgedeel word. Hulle gebruik die kerk slegs as 'n vertrekpunt om soveel as moontlik hulpbehoewendes te bereik.
Die motorfietsgroep het 20 jaar gelede sy ontstaan in die Nuwe Apostoliese gemeente van Düsseldorf, Duitsland, gehad. Twee lidmate daar, Joachim en Elke Schmidt, was gereelde besoekers aan Suid-Afrika en het mettertyd 'n woning in Kaapstad aangeskaf. Uit hulle kontak met die Kaapse gemeentes van die kerk het dit duidelik geword dat daar 'n groot behoefte vir die werk van hierdie onvermoeide ridders van die ysterperde bestaan. Onder die Schmidts se leiding is NACMA in 2014 gestig en die groep groei sedertdien van krag tot krag.
Die jongste lid is die vyfjarige Chelsea Jacobs, wat met haar eie leerbaadjie en kentekens spog. Joachim glo dat die betrokkenheid van kinders so jonk as moontlik 'n groot deel van die geheim van die uitreike se sukses is.
Die donasies en items wat Sondag aan Melkhoutfontein se Nuwe Apostoliese gemeente oorhandig is, is in Duitsland, sowel as in die Kaap ingesamel. Elke kind teenwoordig het ook 'n partytjiepak met snoeperye ontvang.
Voor, van links: Chelsea Jacobs en Joachim Schmidt. Middel: Milly Phillips, Teeny Phillips, Ingrid Williams, Ursula Price, Samantha Pietersen, Elke Schmidt en Charlene de Stadler. Agter: Dalton Williams, Mike Williams, Eugene de Stadler, Allison Pietersen, Leon Pernall, Eldred Price en Mike Kruger.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'