HESSEQUA NUUS - En so het ons (amper) aan die einde van nog 'n jaar gekom. Vandag is die laaste Suid-Kaap Forum vir 2022 en ons eerste uitgawe in 2023 sal op Vrydag 13 Januarie weer verskyn.
Nuus kan steeds aanlyn by Suid-Kaap Forum gevolg word.
Die redaksie en bemarking wil al ons lojale adverteerders, lesers, medewerkers en veral die nuusmakers hartlik bedank vir hul ondersteuning. Sonder julle is ons verlore. Dis ons hartswense dat julle lekker gaan uitspan en goed uitrus sodat mens die nuwe jaar met hernude ywer kan aanpak.
Aan al die vakansiegangers en besoekers aan Hessequa: mag dié vakansie die beste een nóg wees.
Mag julle feesgety gevul wees met liefde, lag en saamwees met familie en vriende en mag elke dag vir julle vreugde bring in die jaar wat voorlê.
Dis ons gebede dat julle vrede mag vind. In jouself, in jou geloof en menswees en mag die spesiale boodskap van hoop en oorwinning deel van jou wees.
Geseënde Kersfees en 'n voorspoedige 2023!
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'