RIVERSDAL NUUS - Die dorp se muurbalspelers het op Woensdag 1 November hul klubkampioenskap gespeel om vanjaar se wenners aan te wys.
In die mansafdeling het Jan Oosthuizen se mokervernuf geseëvier en Dorie Toua se vlugvoetigheid haar wenstatus verseker.
Die klub bestaan al amper dertig jaar. Die afgelope twee jaar is heelwat aandag aan die klubgebou, wat langs die tennisbane geleë is, gegee.
"Ná verskeie verbeterings, in samewerking met die Hessequa-munisipaliteit, wil die klub graag sy ledetal uitbrei en nóg verbeterings aanbring,” sê Pieter Toua, die klubvoorsitter.
Die huidige 35 spelers, van negejariges tot sestigplussers, neem ook aan kompetisies op ander dorpe deel. Agt juniors het vanjaar Eden-spanne gehaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’