HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), in samewerking met lede van die traumakamer (VEP), het onlangs met 'n bewusmakingsveldtog na die plaaslike gemeenskap uitgereik.
Volgens sers. Danwill Josephs, sektorbestuurder, wou hulle hul werkswyses met die gemeenskap deel.
Die groep, onder leiding van Josephs en Ben Dell, GPF-tesourier, het hul eerste bewusmakingsinisiatief in Mervyn Josephstraat van stapel gestuur waartydens hulle inwoners, maar veral kinders, met heerlike sop, toebroodjies en lekkernye bederf het. Daar was ongeveer 60 kinders en 'n paar volwassenes teenwoordig.
Lede het ook by woonhuise aangedoen waartydens hulle pamflette oor hul werksaamhede en hul telefoonnommers aan die inwoners beskikbaar gestel het.
Volgens Dell is die woonbuurt in verskeie seksies opgedeel en beplan hulle om een keer per maand sulke uitreikaksies te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’