WES-KAAP NUUS - Byna 'n kwart (22,78%) van misdaad wat landwyd in 2016/17 gerapporteer is, het in die Wes-Kaap plaasgevind, sê die minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato.
"Dit is duidelik dat te veel mense in die provinsie nie die luuksheid van veiligheid het nie. Dit kan, ten spyte van die beste pogings van die provinsiale kommissaris, Khombinkosi Jula en sy span, grootliks aan onvoldoende polisiëringshulpbronne toegeskryf word.
Daar is 'n direkte verband tussen die hoë misdaadsyfers en die gebrek aan polisiëring," het hy in 'n onlangse persverklaring gesê.
Uit die hele Suid-Kaap blyk dit Groot-Brakrivier-polisiestasie kry die swaarste met een beampte vir 566 inwoners wat bedien moet word.
In Hessequa-bedieningsgebied staan sake so:
• Albertinia 1 per 293
• Riversdal 1 per 333
• Stilbaai 1 per 262 en
• Heidelberg 1 per 288
"Histories het die Wes-Kaap ook onvol-doende hulpbrontoekenning met tot 85% van die polisiekantore wat hulpbronne benodig en 'n personeeltekort van bykans 3 000 polisielede," sê hy.
Volgens Plato het die aantal aktiewe polisiereserviste sedert 2008 ook met 66% gedaal (van 5 059 tot net 1 700) en tot oormaat van ramp het die polisie onlangs hul voornemens bekend gemaak dat die nasionale bestuur beplan om die polisie se getalle in die komende jare met 3 000 te sny.
Minister van gemeenskaps-veiligheid, Dan Plato.
In die polisie se jaarlikse prestasieplan vir 2017/18 is daar aan die lig gebring dat die personeelgetalle vanaf 2014 tot 191 431 teen 2019/20 verminder sal word. "Terwyl baie mense in die provinsie die voordeel van voldoende polisiëring, proaktiewe en doeltreffende gemeenskapsgebaseerde veiligheidstrukture geniet, is die realiteit dat té veel mense in die provinsie steeds weens geweld geraak word.
Die Wes-Kaapse mense verdien 'n polisiediens wat hulle kan vertrou om hul pligte doeltreffend uit te voer," het Plato gesê.
*According to the Minister of Community Safety, Dan Plato, nearly a quarter (22,78%) of crime reported in the country in 2016/17 occurred in the Western Cape. Out of the four police stations, Pacaltsdorp has the least police members to residents with a ratio of 1:443.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'