Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Boer van Heidelberg is nou keelvol vir vandale wat die besproeiingstelsel se waterpype en die sproeiers op die plaas beskadig wanneer hulle die perseel betree op pad na die rivier toe.
Volgens die plaasbestuurder, Marius Kluyts is hy raadop oor die verliese wat hulle ly as kwaaddoeners kortpad na die rivier vat.
Hy sê dat die sproeiers gereeld op die plaas in die landerye gevandaliseer word.
"Dis etlike duisende rand se skade wat elke keer aangerig word as die pype met skerp voorwerpe gesny word. Dan steel hulle ook nog van die sproeiers wat self nie goedkoop is nie.
"Hier probeer ons voedsel produseer om die nasie te voed en gesond te hou, maar word ons deur vandaliste geteiken wat niks vir ander se eiendom omgee nie. Hoe nou gemaak?" het hy moedeloos gesê.
Kluyts noem dat die plaaslike polisie nog nie veel uitgerig het nie, aangesien daar weinig arrestasies gemaak word. Hy is boonop ook onlangs byna aangeval toe hy by die huis aangekom het.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte is hulle bewus van die misdade wat daar gepleeg word, maar ontbreek die nodige inligting om diegene wat vir die vandalisme verantwoordelik is, vas te keer. Hy doen 'n dringende beroep op enigiemand wat inligting kan verskaf wat sal lei tot die skuldigbevinding van die kwaaddoeners om die polisie te kontak (028 722 1910).
Windvogel benadruk dat alle inligting vertroulik behandel sal word en dat daar 'n beloning is vir die persoon indien dit tot 'n suksesvolle skuldigbevinding sal lei.
So lyk die beskadigde waterpype.
Vorige artikel: Plaasboer keelvol vir vandalisme
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'