STILBAAI NUUS - Stilbaai het tans ‘n subforum-plaaswag en drie buurtwagte. Die bestaande Stilbaai-, Melkhoutfontein- en Jongensfontein-buurtwaggroepe is in drie groter buurtwaggroepe saamgevoeg, naamlik Hawe, Platbos en Stilbaai-Oos wat saam met die subforum-plaaswag om akkreditasie aansoek gedoen het.
Almal funksioneer onder die jurisdiksie van Stilbaai GPF en die provinsiale departement van gemeenskapsveilighd.
Die buurt- en plaaswagvoertuie word duidelik met magnetiese plakkers gemerk en sal in die aand ook met ‘n roterende wit lig op die voertuig geïdentifiseer word.
Stilbaai-polisie versoek dat patrollies gedurende die tye wanneer misdaad plaasvind, deur die plaas- en buurtwagte ter ondersteuning van die polisie, uitgevoer word.
Patrollies wat in die Stilbaai-dorpsgebied deur buurtwagte gery word, maak dit vir die polisie moontlik om dan mannekrag en hulpbronne in ander gebiede aan te wend. Navorsing het ook bewys dat kriminele gebiede waar daar gereelde beweging is, vermy. Vooraf gedentifiseede persele waar verdagte bewegings of persone mag wees, word ook tydens patrollies besoek. Navorsing toon ook dat misdaad plaasvind wanneer wanorde, soos graffiti, voertuigwrakke, beboste persele en persone wat op openbare persele slaap (bosslapers), nie aangespreek word nie.
Gedurende die afgelope naweke is daar weer patrollies in die dorp en op die distrikspaaie gery. Inligting wat tydens patrollies verkry word, kan van bewegings van verdagte voertuie tot stukkende straatligte behels en dit word alles deur die regte kanale aangestuur.
“Diens as ‘n buurtwaglid is vrywillig, maar dit gee jou die tevredenheid dat jy iets vir jou gemeenskap doen. Ons benodig altyd nuwe lede wat ná opleiding diens vir patrollies kan doen,” sê Pieter Lategan, kordineerder van Stilbaai-Oos se buurtwag.
Belangstellendes kan die volgende koördineerders kontak vir die gebied waar hy of sy woonagtig is:
• George Sabbagha by Hawegebied (083 650 7430)
• Danie Scholtz by Platbosgebied (082 411 6768)
• Clifton Donald by Stilbaaihoogte (082 457 1135)
• Pieter Lategan by Stilbaai-Oos (082 808 6559).
Plaas- en buurtwaglede wat saam met die polisie Stilbaai veilig hou. Foto: Richard Webb
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'