STILBAAI NUUS - Danksy 'n meubelmaker met 'n sagte hart vir die dorp spog die palingstroom by die Inligtingsburo met 'n splinternuwe bruggie.
Peter West wat al sedert driejarige ouderdom gereeld op die dorp vakansie hou, het die behoefte aan 'n ordentlike voetbruggie oor die stroom aan die onderkant van die palingpoel raakgesien.
Hy het aangebied om 'n nuwe een te vervaardig, maar kon nie borge vir die hout kry nie.
Dit het hom egter nie gekeer nie en hy het op eie koste begin bou. Toe Hentie Schumann van Stilbaai Bewaringstrust van dié onbaatsugtige gebaar te hore kom het sy dadelik die Trust genader om West te help. Individue en plaaslike besighede het ook hand in die sak gesteek met skenkings en afslag op materiaal.
Die netjiese en stewige brug is Vrydagoggend 7 Februarie deur werkers van Hessequa-munisipaliteit afgelewer en te midde van groot opwinding oor die stroom staangemaak.
Piet Paling en sy familie sê baie dankie vir dié toevoeging tot hul omgewing.
Die ou oorstapplek oor die stroom. Foto: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'