Update
WES-KAAP NUUS -Die poging van duisende staatsdienswerkers oral in die provinsie om die sperdatum vir aansoeke vir uitbetalings wat reeds in 2012 gesluit het, uitgestel te kry, duur voort.
Duisende staatswerkers wat teen die sperdatum nie aansoeke ingehandig het nie, wil het die proses moet heropen word. Hulle voel daar is nie behoorlik kennis gegee of moeite gedoen om afgetredenes te bereik sodat hulle betyds kon aansoek doen nie.
Verlede week het die leierskap van die Pensions Service Redress Movement (PSRM), die beweging wat deur die benadeeldes geskep is, die menseregtekommissie (MRK) om hulp genader om die saak te bestudeer en te besluit of hulle 'n regmatige saak het. Die leier van die afvaardiging, David Jantjies, Lukas Hanekom en Joseph Markgraaff het die kantore van die MRK namens die PSRM besoek en 'n formele klag teen die staatsdienswerkers-bedingingsraad (PSCBC) en die regering se pensioenfonds (GEPF) ingedien.
Die PSRM se afvaardiging was ure lank in ernstige gesprek met die MRK gewikkel en het die versekering gekry dat hul interpretasie van die saak korrek is, en dat hulle die regte pad volg om die saak te beredder. Alle aktiwiteite van die PSRM is tydelik gestaak tot daar van die MRK terugvoering ontvang word.
Op 'n vergadering op Vrydag 7 Junie het Tom Willemse weer 'n groot groep benadeeldes in Heidelberg verseker dat pogings deur die onderwysers-unies NAPTOSA, SAOU en SADOU om die beweging deur valse aantygings in die media te beswadder, daarop gemik is om hulle eie verleentheid weg te steek. Derduisende lede van hierdie unies wat nou almal pensionarisse is, is nooit deur hulle persoonlik ingelig om vir die geld wat hulle toekom, aansoek te doen nie.
Die PSRM se hoofbestuur bestaan uit David Piedt (voorsitter), David Jantjies (ondervoorsitter) en Quentin Newman (sekretaris).
Lees 'n vorige artikel hier: Pensioenbenadeeldes staan vas
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'