STILBAAI NUUS - Lank na afloop van die geslaagde Passiespel wat in April op dié kusdorp aangebied is, het die spreekwoordelike 'weduwee se kruik' steeds aanhou gee.
Al die geld wat oorgebly het nadat produksieuitgawes gedelg is, is deur die bestuurskomitee in projekte tot voordeel van die gemeenskap gebruik.
Bydraes het gegaan aan die plaaslike tak van die NSRI, Sterretjie-kleuterskool by Ouma Lena se Huis op Melkhoutfontein en die Stilbaai-polisie spesifiek vir die opknap van behuising vir polisielede.
'n Versapper is aan 'n gestremde kind op Melkhoutfontein geskenk en verskeie behoeftige senior inwoners het geldelike hulp ontvang. Die komitee het ook wors vir die onlangse Arise-byeenkoms op Melkhoutfontein geskenk en die kinders wat aan die Passiespel deelgeneem het, is met 'n uitstappie beloon.
Die projek is nou afgesluit en die bestuur bedank die gemeenskap vir hul ruim bydraes.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'