HESSEQUA NUUS - Katte, lere, spieëls - die lys van teikens vir bygelowe is so lank soos die geskiedenis self.
In 'n onlangse meningsopname deur Suid-Kaap Forum het die meerderheid lesers aangedui dat hulle nie in enige bygeloof glo nie.
Maar waarom huiwer dieselfde persoon dalk om 'n swart kat as troeteldier aan te skaf? Sommige bygelowe is al so ingeburger dat dit as tradisie beskou word. In die sportwêreld is spesifieke rituele voor deelname algemeen.
'n Bygeloof verwys na mense se behoefte om bonatuurlike verskynsels soos die noodlot met oortuigings sonder wetenskaplike begronding in hul guns te beïnvloed. Dit ontstaan gewoonlik uit onkunde, vrees vir die onbekende, die misverstaan van oorsaaklikheid en wetenskaplike beginsels of 'n geloof in toorkuns. Die uitwerking is 'n gevoel van beheer oor omstandighede, wat lewensangs by sommige individue verminder.
Sowel die kerk as sekere rigtings in sielkunde het deur die eeue sterk kritiek teen die verskynsel uitgespreek. Mense glo byvoorbeeld vandag nog dit bring ongeluk as 'n sambreel binnenshuis oopgemaak word. Jare terug was sambrele se vere egter so styf dat dit letterlik oopgespring het. In 'n Victoriaanse huis vol ornamente kon dit groot skade aanrig, wat definitief tot ongelukkigheid gelei het. Om iemand gesondheid na 'n nies toe te wens is gewortel in die katastrofiese griepepidemies van die middeleeue.
Ander gelofies kom suiwer uit vrese en misverstande, soos die vermaning om nie in 'n huis te fluit nie. Dit het ontstaan in Litaue waar inwoners glo duiwels word geroep met fluite. Gebreekte spieëls het volgens die Romeine 'n persoon se lewensiklus onderbreek en 'n nuwe sirkel van sewe jaar het begin sodra 'n spieël in skerwe spat. In oerbeskawings is geglo bose geeste kon verjaag word deur op hout te klop. Die ou Egiptenare het 'n leer wat regop teen 'n muur staan as 'n heilige driehoek beskou. Iemand wat onder deur die leer loop, versteur die heilige energie en ongeluk volg. Sout mors het in ou beskawings beteken 'n kans op ewige lewe word in gevaar gestel, omdat mummifikasie met behulp van sout gedoen is.
Of jy nou daarin glo of nie, die energie vir bygelowe is gewortel in die krag wat oorlewering daaraan gee. Bygelowe sal deel van ons samelewing bly solank as wat ons dit laat voortbestaan.
IN SHORT
Superstition is so deeply entrenched in our society that habits like avoiding black cats and not walking under ladders are almost tradition. These irrational beliefs spring from ignorance and the misunderstanding of principles in nature, as well as a need for control over circumstances. As long as we perpetuate superstitions through our acts, they will survive.
Lees 'n vorige artikel hier: Bygelowe en ander bangmaakstories
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'