STILBAAI NUUS - Die jaarlikse Oujaarsaand-lanternloop het sy ontstaan te danke aan Natasha Smit wat die eerste lanternloop op 31 Desember 2015 gereël het ter ere van haar ma, wyle Diena Smit, 'n oudinwoner van Jongensfontein.
Dit was so 'n groot sukses, met byna 500 stappers, dat dit 'n jaarlikse instelling geword het. Riversdal se Royal Crusaders wat van die begin af die stappers begelei het met hulle pragtige musiek, sal hierdie jaar weer op hulle pos wees.
Volgens John Wills, voorsitter van die Jongensfontein Inwonersvereniging, word hierdie LED-lanterns net in China vervaardig en die enigste verskaffer wat hulle kon opspoor om 'n nuwe vooraad lanterns by aan te koop, is in Krugersdorp.
Gelukkig vir hulle bring Albertinia-meubelvervoer al die afgelope drie jaar die byna 800 lanterns kosteloos van Krugersdorp tot in Jongensfontein, waaroor die inwonersvereniging natuurlik baie dankbaar is.
Die geld wat ingesamel word met die verkoop van die lanterns word byna alles gebruik om die uitgawes, soos die orkes, te dek en daar is nie nog fondse om die vervoer van die lanterns te dek nie.
Albertinia-meubelvervoer het juis Saterdag 4 November die lanterns vir hierdie jaar se lanternloop by Christo Cronjé in Jongensfontein afgelewer. Christo en sy gesin speel 'n groot rol om hierdie jaarlikse gebeurtenis so 'n groot sukses te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’