Update
STILBAAI NUUS - Dit is nie noodwendig groot en duur dinge wat mense gelukkig maak nie, maar eerder die klein dingetjies wat met liefde gedoen word.
'n Fliekaand wat as deel van senior burger-maand deur Judy Goslin, afdelingsbestuurder van Feedem by Carewell-hospitaal in Stilbaai gereël was, is 'n bewys hiervan.
Die senior burgers wat in Carewell se versorgingsafdeling is en dit bygewoon het, was Vrydagaand, 30 Oktober duidelik baie opgewonde oor die vooruitsig, veral omdat dit 'n Western-fliek uit toeka se tyd was.
Volgens Ina Lategan, een van die senior burgers wat dit bygewoon het, gebeur so 'n fliekaand nie dikwels nie, maar hulle kom darem een keer per week bymekaar. "Dan brei of hekel ons en verkeer so 'n bietjie sosiaal," vertel sy. "Ons is bly dat dit 'n Cowboy-fliek is, want die flieks wat deesdae op televisie vertoon word, laat mens net bloos.
Ons het gehoor dit is The Magnificent Seven en ons kan nie wag om Steve McQueen weer in aksie te sien nie."
Hulle is ook met springmielies en 'n soetigheidjie bederf, en kon op die koop toe 'n drinkdingetjie met 'n klein bietjie skop, saambring vir die dors.
Water is skaars, maar mens moet ietsie drink vir die dors, meen Louise Rheeder.
Vorige artikel: Klein dingetjies bring ook geluk
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'