Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Westville Carelse (33) van Melkhoutfontein, is Vrydag 25 Augustus in die rondgaande hooggeregshof in Swellendam lewenslange tronkstraf vir moord opgelê.
Hy is twee weke voor die vonnisoplegging skuldig bevind aan die moord op sy tannie, Annemique Manho (32) en haar tweejarige dogtertjie, Almique, op 14 Februarie 2022 in hulle huis.
Alfred Manho, Annemique se man en onderwyser by Melkhoutfontein Primêr, en sy seun Alex, het na skool by die huis gekom en die deur was gesluit.
Alfred het vir Alex deur die venster laat klim om die deur oop te sluit, dit is toe dat hulle op die lyke afgekom het.
Annemique het op die kombuisvloer gelê met verskeie steekwonde aan haar liggaam. Almique se lewelose liggaam was in 'n bad vol water. Albei is op die toneel dood verklaar.
'n Span speurders het regdeur die nag gewerk en het Carelse die volgende oggend, met verskeie items uit die Manho huis in sy besit, gearresteer.
Tydens die hofsaak het regter Matthew Francis bevind dat Carelse die twee vermoor het met die doel om hulle te beroof. Hy is aangekla van huisroof met die doel om te steel, diefstal, die moord op Annemique en moord met voorbedagte rade op Almique.
Die volledige vonnis is soos volg:
- Drie jaar tronkstraf vir huisbraak met die doel om 'n misdryf te pleeg;
- Drie jaar vir roof met verswarende omstandighede;
- 15 jaar vir die moord op Annemique
- Lewenslange tronkstraf vir die moord op Almique.
Annemique se bedroefde ouers, Gert en Marietjie Kleinhans, het Vrydag se vonnisoplegging bygewoon en moes weer die traumatiese gebeure van 14 Februarie 2022 herleef. Dit het vir hulle gevoel asof hulle weer die kinders se doodstyding gekry het.
Volgens hulle was dit verskriklik om daar in die hofsaal te sit en te luister hoe Annemique vermink en Almique verdrink is. Gert sê dat hy hierdie swaar tyd nie eers aan sy vyande sal toewens nie. Marietjie sê dat sy nie kwaad is vir Carelse nie. Sy haat hom ook nie, maar sy wil graag weet hoekom hy dit gedoen het.
Sy sê dat alhoewel hy lewenslank gekry het dit nie haar kinders gaan terugbring nie.
Marietjie sou graag wou sien dat hy vir Annemique se moord ook lewenslank moes kry en die gemeenskap stem met haar saam.
Hulle hoop om berusting te vind na die uitspraak, maar dat dit nie maklik gaan wees nie. Daar is nog te veel onbeantwoorde vrae.
Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het sy dank en waardering uitgespreek vir die toegewydheid van die ondersoekspan en aanklaer.
Die ondersoekbeampte, sers. Ludwig Schnetler van Stilbaai-polisie en die aanklaer advokaat Leon Snyman.
Vorige artikels:
- 32-jarige in hegtenis na dubbele moord
- Opvolg: Moord op Melkhoutfontein
- Jong ma en haar jong kind vermoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’