Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die dubbele moord op 'n jong ma en haar tweejarige dogtertjie in die gebied bekend as Die Poort, sowat 1,5km buite Melkhoutfontein digby Stilbaai het die Hessequa-gemeenskap tot in sy fondamente geruk.
Annemique Manho (32) is Maandag, 14 Februarie op die kombuisvloer met veelvoudige mesteekwonde aangetref, terwyl Almique se lewelose liggaam in 'n bad water gevind is.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisie kommunikasiebeampte het bevestig dat Stilbaai-polisie Maandag ongeveer16:45 op 'n klag van beweerde moord reageer het.
"Die oorledene se man, Alfred Manho, 'n onderwyser by Melkhoutfontein Primêre Skool en hul seun, Alex (9) het die middag by die huis aangekom en die huis gesluit gevind, waarop hy sy seun deur die venster gestuur het om die deur van binne oop te sluit. Dis toe dat hulle op die grusame toneel afgekom het," het hy gesê.
Die polisie het onmiddellik 'n 72-uur mobilisasieplan geloods en deskundiges ingekry om met die soektog te help. 'n Deurbraak is Dinsdagoggend gemaak waartydens 'n 32-jarige verdagte, 'n plaaslike inwoner, in hegtenis geneem is.
Volgens Pojie is daar berading vir die oorledene se man en seun gereël. "Die ondersoek is nog nie afgehandel nie en meer inligting kan dalk die ondersoek nadelig beïnvloed."
Hy het bygevoeg dat lt gen Thembisile Patekile, provinsiale kommissaris vol lof is vir die toewyding en vasberadenheid van die ondersoekspan wat tot die spoedige arresstasie van die verdagte gelei het.
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Grant Riddles het sy misnoeë oor die tragiese moorde uitgespreek. "Dié grusame daad het tot binne ons harte geboor. Hierdie soort geweld word ten sterkste veroordeel," het hy duidelik ontsteld gesê.
Riddles het bygevoeg dat hy en die Raad die polisie ten volle sal ondersteun om die ondersoek vlot te laat verloop.
Op sosiale media het honderde mense hul afgryse uitgespreek en almal noem dat daar strenger teenoor misdadigers opgetree moet word. Sommige spreek ook die wens uit dat die doodstraf weer ingestel moet word.
Die huis van die Manho-egpaar waar die ma en haar dogtertie tragies aan hul einde gekom het.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'