RIVERSDAL NUUS - Die gewilde dorpsmark wat in die vroeë 1960's in Riversdal gehou is, maar later 'n stille dood gesterf het, gaan danksy die inisiatief van twee plaaslike entrepreneurs weer herleef.
Antoinette de Swardt en Nicole du Plessis, twee geleentheidskoördineerders wat Circle Dance Events bedryf, is voornemens om 'n dorpsmark van Desember af elke Saterdag in Riversdal by Jurisch Park te hou.
Dit sal as die Riversdal Familie-leefstylmark bekendstaan en sal van 3 Desember tot 7 Januarie 2023 aangebied word.
Die besigheidsure sal van 09:30 tot 15:00 strek.
Antoinette het Maandagoggend tydens 'n onderhoud by Jurisch Park aan Suid-Kaap Forum vertel die idee om weer só iets op die been te bring, het ontstaan toe hulle oor 'n gesprek die Desember-stilte in die dorp bespreek het en wat mens daaromtrent kan doen.
"Stilbaai het die see as groot trekpleister in Desember, maar hier gaan nie veel aan nie. Dis toe dat die idee opgekom het om weer die dorpsmark te laat herleef."
Sy en Nicole het die idee met die Hessequa-munisipaliteit getoets wat baie ontvanklik en entoesiasties oor die vooruitsig was.
"Dit was vir ons baie bemoedigend toe senior amptenare van Hessequa-munisipaliteit laat blyk het dat hulle dié projek ten volle ondersteun en hul samewerking belowe het. Dis tog in almal se belang dat die dorpsmark van die grond af kom en 'n sukses is."
Vorige pogings om iets by Jurisch Park van stapel te stuur, het telkens skipbreuk gely. Die omgewing word oor naweke 'n stortingsterrein en is nie 'n sieraad vir die oog nie.
Antoinette sê Jurisch Park het die potensiaal om in 'n groot bate vir Riversdal omskep te word. "Daarom is dit belangrik om die dorpsmark met die hulp van alle belanghebbendes te laat herleef. Dis tog 'n projek uit die gemeenskap vir die gemeenskap. Werk dit, is dit tot almal se voordeel."
Die idee is om die vakansieweergawe van die dorpsmark, van 3 Desember tot 7 Januarie, in 'n rustige gesinsuitstappie te omskep. "Gospelmusiek deur plaaslike kunstenaars sal die kalm atmosfeer onder die bome by die stalletjies skep. Vir kleiner kinders sal daar 'n springkasteel wees en gesigverf.
"Plaaslike uitstallers sal voorkeur geniet om hul vars produkte, soos kaas, vars groente, vrugte, brode, konfyte en melk, hier ten toon te stel. Die klem sal val op vars produkte."
Streng sekuriteit deur 'n privaat maatskappy en die plaaslike polisie sal toegepas word om seker te maak ongewenste elemente word weggewys.
Belangstellendes wat hul produkte hier wil verkoop, kan gerus vir Antoinette by 073 092 3783 bel of Nicole by 079 514 2666.
Die twee raakvatters is vuur en vlam om 'n sukses te maak van Riversdal se dorpsmark. "Ons harte is, nes die munisipaliteit s'n, vierkantig binne-in die projek."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'