Volgens Marina het sy nie die Camino de Santiago de Compostela aangedurf vir geestelike of ander redes nie, sy het dit gedoen "omdat ek wou".
Die pelgrimsroete is nie grappies nie en daar is baie dae harde bene gekou om die dag se doelwit te bereik - hetsy dit 15, 25 of 35 kilometer per dag was.
Elke persoon stap op sy eie tyd en volg die geel pyltjie wat die Camino se roete deur die Spaanse platteland aandui. Volgens Marina is die Camino de Santiago de Compostela 'n uitmergelende roete wat werklik op sommige plekke deur berge en dale kronkel. Heelwat stappers doen beserings op en seer voete wat gelawe word is 'n alombekende gesig in die dorpies langs die middeleeuse roete.
Die erge ysige reënweer het die stappery (dit het 30 dae uit die 40 gereën) ietwat bemoeilik en besef mens volgens haar vinnig dat slegs die basiese benodighede soos kos en slaapplek prioriteit is.
Langs die weg slaap die pelgrims in Albergue's wat 'n bed, ablusie en somtyds kookgeriewe insluit.
'n Lekkerte met so 'n pelgrimstog is natuurlik ook die geleentheid om ander kulture en mense te leer ken. Sy vertel dat hul een aand 12 nasionaliteite om een tafel gesit het - erg gesellig!
Die Camino de Santiago de Compostela, ook in Engels bekend as The Way of St James is al vir meer as 'n 1000 jaar 'n gewilde roete vir pelgrims om te stap. Die roete is ook basies die enigste toerisme attraksie in noord Spanje en is jaarliks 'n trekpleister vir duisende pelgrims.
Juis weens dié feit is die inwoners in die verskeie dorpe langs die roete ongelooflik ingestel op toerisme, gasvryheid en natuurlik alles en nog wat geassosieer word met die Camino de Santiago de Compostela .
Na 800 kilometer se stap vanaf Irun tot in Santiago het Marina haar Compostela, oftewel sertifikaat van erkenning, ontvang - geteken en gestempel in die pelgrimskantoor in Santiago. In die woorde van 'n onbekende pelgrim: "However sceptical one may be about the basis of the pilgrimage and the legends surrounding it, one cannot help being affected by it. Maybe it's the simplicity of the life and the closeness to nature that makes one conscious of deeper realities and I hope, as a result, I have learned to be a better person, or at least I will try to be."
Met die Camino de Santiago de Compostela op haar kerfstok kan Marina ook met reg sê sy ken van toontrap!

Mens stap letterlik deur berge en dale, in alle weerstoestande die uitmergelende Camino de Santiago Compostela pelgrimsroete.
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS