Verskeie klagtes is al ingedien by dierebeskerming en die plaaslike owerhede, maar die wrede praktyk kan skynbaar net nie in die bek geruk word nie. Die bewering wek reeds geruime tyd groot kommer onder wetstoepassers, asook die plaaslike gemeenskap aangesien dit wil voorkom of dit al hoe meer voorkom in veral Hessequa.
Om honde te teel vir gevegsdoeleindes is nie net 'n wrede stokperdjie nie, maar ook baie onverantwoordelik aangesien niks so 'n dier verhoed om 'n mens of selfs 'n ander dier aan te val nie. Elke honde eienaar en veral dié wat met honde teel, word volgens munisipale wetgewing verplig om sekere lisensiegelde te vereffen voor daar met honde geteel mag word. Die onus lê op die skutmeester en sy personeel om die lisensies na te gaan en beheer uit te oefen. Dit wil egter voorkom of dit óf skelm, óf op so 'n manier gedoen word dat die owerhede nie bewus is wat aangaan nie.
Gevaarlikste hond
Die Pitbull-ras is gelys as die nommer een op die lys van die tien gevaarlikste honde met die res soos volg: 2. Rottweiler; 3. Duitse herdershond; 4. Husky; 5. Alaskan malamutes; 6. Dobermann Pincher; 7. Chow Chow; 8. Presa Canario; 9. Bokser en 10. Dalmation.
Munisipale kommentaar
Mnr. Chris Onrust het kommentaar gelewer aan Suid-Kaap FORUM rakende die probleem. Volgens hom word klagtes aangaande rondloperhonde gereeld deur die munisipaliteit se skutmeester ontvang. In geval waar die eienaar(s) nie opgespoor of bekend is nie, word die diere geskut. Waar die eienaars wel bekend is, word boetes uitgereik. Die bewering dat daar in Hessequa geteel word, kon nog nie bevestig word nie.
Dit is wel bevestig dat mense die Pitbulls Mosselbaai toe neem om gedek te word en dan word hulle teruggebring na Melkhoutfontein vir die verkoop daarvan. Die oortreders word ook beskerm deur die gemeenskap omdat niemand inligting wil deurgee oor wie hulle is of waar hulle woon nie. Volgens Onrust is die verordening insake openbare oorlaste en oorlaste wat voortspruit uit die aanhou van diere soos afgekondig in die Provinsiale Koerant 6970 op 23 Maart 2012 ter sprake. "Ingevolge die bepalings van die betrokke verordening is die bywette van toepassing, tesame met die gepaardgaande boetes."
Munisipale wetgewing
In Hessequa is wetgewing (bywette) wel in plek met betrekking tot dierebeheer. In die betrokke wetgewing word die volgende aangehaal met betrekking tot die kontrole van honde: Die eienaar van 'n dier of die persoon in beheer daarvan moet beheer oor sy/haar diere uitoefen ten einde skade aan eiendom of tuine te verhoed en mag nie enige dier op enige gedeelte van 'n openbare pad laat, toelaat dat dit op 'n openbare pad is nie en mag 'n dier ook nie op enige plek laat vanwaar dit op enige deel van 'n openbare pad mag afdwaal nie.
Lisensiekostes vir telers
Daar is lisensiekostes verbonde aan die teel van honde en moet aansoek gedoen word om toestemming van die Hessequa munisipaliteit. Die koste vir 2013/14 is soos volg: Ongeregistreerde telers - R4 148 en ongeregistreerde telers per hond - R356. Geregistreerde telers - R2 376 en geregistreerde telers per hond R238. Telers word aangemoedig om te registreer.
Kontrole van honde
* Geen persoon wie honde besit of aanhou mag 'n teef op hitte toelaat om in die strate rond te loop sonder toesig nie, enige hond aanmoedig om aan te val, 'n persoon of ander dier bangmaak, buiten vir selfverdediging nie. Geen persoon mag 'n hond aanhou op 'n perseel wat nie behoorlik omhein is nie.
* Honde eienaars moet toesien dat hul honde nie oortree op ander persone se eiendom nie en ook nie 'n gevaar in die pad is vir voertuie nie, asook om nie 'n gevaar vir persone in die straat te wees nie.
* Honde eienaars moet ook toesien dat honde nie 'n gevaar inhou vir munisipale personeel wat eiendom moet binnegaan om hul werk te doen nie. Indien 'n hond gevaarlik is moet 'n kennisgewing dit so aandui. Honde eienaars moet ook hul honde weerhou om bure te steur deur aanhoudend te blaf, howl of huil, om voertuie te jaag of enige ander diere buite die eiendom aan te val. Die munisipaliteit is by magte om 'n probleemhond te verwyder en te skut.
Boetes vir oortredings
Die volgende boetes is van toepassing vir oortredings van bogenoemde bywette:
* Vir skade aan eiendom - R500.
* Diere wat in openbare paaie rondloop - R2 000.
* Telers wat nie aansoek doen om toestemming en die nodige lisensies bekom nie - R1 000.
* Toelaat dat 'n hitsige teef sonder toesig in 'n straat of openbare plek is - R500.
* Diere wat aangespoor word om 'n persoon of ander dier aan te val, lastig te val of bang te maak, behalwe waar dit nodig is vir verdediging of beskerming van sodanige eiendom - R2 000.
* 'n Bron van gevaar of beserings uitmaak of na die eienaar se wete 'n bron van gevaar sal uitmaak buite die perseel waar die sodanige hond aangehou word - R1 500.
* 'n Bron van gevaar is vir werkers van Hessequa munisipaliteit wat 'n perseel moet betree in die uitvoer van hul pligte - R2 000.
* 'n Hond aan te hou wat blaf, kef of aanhoudend huil - R500.
* 'n Dier wat in die gewoonte is om af te storm op enige voertuie, diere, pluimvee, duiwe of persone buite enige perseel waar die hond aangehou word - R500 en die versteuring van bure se gemak, gerief, vrede of rus - R500.

Die tien gevaarlikste honde.