Beukes, tweede oudste seun van ses kinders uit die huwelik van Philander Edward en Mienie Beukes, het sy onderwysloopbaan aan die destydse plaasskool, Wegwysersrivier Primêr, as onderwyser en skoolhoof begin. Die skool is sowat 30 km buite Riversdal aan die voet van die Langeberge geleë. Dit is nie meer in gebruik nie en was die leerders na Goedgegun Primêr verskuif.
Hy het ook poste as prinsipaal van beide 'n primêre en sekondêre skool in Kaapstad beklee waarna hy 'n betrekking in die inspektoraat beklee het.
Intussen het hy homself boonop in teologie bemagtig en is as Anglikaanse predikant ingehuldig. Hy is 'n geregistreerde skuldberader en assessor om sy verskeie leiersposisies wat hy met soveel deernis en toegewydheid beklee, ten volle uit te voer. Beukes en sy kerkkomitee bedryf ook 'n sopkombuis waar sop aan sowat 700 behoeftige leerders weekliks tydens die koue wintermaande voorsien word.
Dié oud-onderwyser het sy liefde en passsie vir die onderwys en opheffingswerk in gemeenskappe waar hy hom ookal bevind, by beide sy ouers sowel as sy oupa Tiel geërf. Hy het Dinsdag, 3 Desember weereens teruggekom om sy goeie werk te kom voortsit waar sy ouers huisvesting en opheffingswerk aan baie verskaf het, deur skoolskoene aan tien behoeftige leerders te skenk. Hy het ook geskenke en lekkernye aan die leerders van Goedgegun en Palmietrivier uitgedeel. Sy tante, me. Rosalind Buis, voormalige eerste prinsipaal by die skool, het ook 'n kontantbydrae aan die huidige prinsipaal, me. Hatwig Scholtz, oorhandig.
Tydens Beukes se kort kuier by beide skole het hy 'n praktiese boodskap van bemoediging en inspirasie gebring.
Hy het die leerders, ouers en leerkragte gemotiveer om die goeie stryd in hul werk voort te sit. "Hou moed en moenie ophou om hard te werk nie. Toegewydheid tot akademiese opvoeding en tegniese opleiding is soos goud in jou hande," het hy gesê en die leerders gemaan om hul ouers te respekteer en te eer, sodat die lewe hulle goed kan behandel. Hy het benadruk dat Christelikheid op drie basiese beginsels rus: Vergifnis, Jesus Christus en geregtigheid.
Ten slotte het hy sy vrou, Shirley en hul gesin bedank vir hul ondersteuning oor die jare. "Dankie ook aan al my kollegas, vriende en die verskeie organisasies en maatskappye vir jul onbaatsugtige ondersteuning om kinderharte bly te maak." Sy boodskap van inspirasie aan die jeug is 'n gedig van Darwin P Kingsley: 'You have powers you never dreamed of. You can do things you never thought you could do. There are no limitations in what you can do, except the limitations in your own mind as to what you cannot do. Don't think you can't. Think, you can".

Eerw. Chris Beukes en me. Rosalind Buis, voormalige prinsipaal (derde van links), staan saam met die personeel van Goedgegun Primêr, Sarah Paulo (kok), Zhanthea Joseph (student opvoeder), Christina Adams (graad R opvoeder) en Filicity Adams (intermediêre opvoeder). Buis oorhandig 'n tjek aan die prinsipaal, me. Hatwig Scholtz.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'