Die koerant is Vrydagoggend, 7 Junie weer gekontak deur erg ontstoke inwoners nadat persone verbonde aan die maatskappy weer opgemerk is waar hul besig was om oesters van die rotse te verwyder.
Heelwat van dié inwoners is van mening dat die betrokke maatskappy se werkers die Stilbaai kuslyn en bronne plunder. Die maatskappy besit reeds 'n aantal jare 'n wettige kommersiële lisensie wat hulle toelaat om soveel oesters as wat hulle wil te oes. Volgens inligting word oesters in Stilbaai nie volgens getal of grootte geoes nie.
'Bloot stropery', beweer inwoners
Die manier hoe die oesters uitgehaal word, word ook bevraagteken aangesien nie slegs die oesters uitgehaal word nie, maar stukke sandsteenrots ook afgekap word wat veroorsaak dat die inter-getysone habitat skade ly. Inwoners wat in gesprek was met die koerant voel dat die maatskappy se bedrywighede bloot stropery is van Stilbaai se kus en dat aangedring moet word om dit te staak. Mariene en kusbestuur het in die verlede bepaal dat hulle heeltemal professioneel en volgens wetlike voorskrifte optree. Die plaaslike inwoners stem nie hiermee saam nie. Natuurkenners in Stilbaai en Hessequa stem ook nie saam met die mening nie, maar CapeNature se hande is afgekap in die verband.
Plaaslike bemagtiging ontbreek
Volgens inligting is die kommersiële permit ook toegestaan om sodoende ekonomiese bemagtiging te bewerkstellig, maar is daar absoluut geen voordeel vir die plaaslike gemeenskap nie en is die vraag waarom 'n maatskappy wat byna 100km vanaf Stilbaai en Melkhoutfontein geleë is, die voordeel kan trek tot nadeel van die plaaslike gemeenskap.
Daar is ook glad nie plaaslik advertensies geplaas in die verband nie, so plaaslike persone het nie die geleentheid gehad om aansoek te doen vir die spesifieke permit nie. Daar is gehoop dat met die proklamering van die Stilbaai Beskermde Mariene (MBA) gebied hierdie soort oestery nie toegelaat sou word nie en dat bron meer beskerming sou geniet. Dit blyk egter of dit nie so is nie.
Inwoners wat ook permitte besit om oesters uit te haal beweer dat dit baie opmerklik is dat oesters langs die Stilbaai kuslyn heelwat kleiner en minder raak.
Nuttige feite
Oesters behoort saam met gapermossels, kammamossels en mossels tot die Bivalvia (tweekleppige) klas weekdiere. Dit is die tweede grootste klas weekdiere, met ongeveer 8 000 spesies. Soos die naam Bivalvia aandui, bestaan die seekos uit twee 'kleppe' (skulpe) wat om die diertjie toevou.
Die twee skulpe word deur 'n ligament vasgehou wat uit 'n proteïen, genaamd resilin, bestaan. Oesters kom oral in die wêreld voor, behalwe in koue areas. Hulle leef 'n sedentêre lewe, wat beteken hulle sit aan rotse vas. Oesters pomp groot hoeveelhede water deur sifagtige kieue, wat suurstof uit voedseldeeltjies onttrek. Omdat oesterskulpe so verskillend van mekaar lyk weens hul geriffelde skulpe, is dit soms moeilik om die onderskeie spesies uit te ken.
Twee spesies kan fisiologies van mekaar uitgeken word deur hulle metode van voortplanting. In die eerste groep is die oesters hermafrodities en in die tweede groep is die geslagte geskei. Oesters is 'n lekkerny, veral weens die sout smaak en sappige vleis. Dit word in restaurante as gereg met suurlemoen, swartpeper en 'n brandsous voorgesit. Die meeste oesters in restaurante is afkomstig van oesterplase in Knysna en Saldanhabaai.
Die gewone Kaapse oester ( Striostrea margaritacea) word geoes langs die kuslyn, ook langs die Stilbaai-kuslyn. Vroeë rekords toon dat oesters reeds in 1894 vir handelsdoeleindes geoes is. Vandag is hierdie vissery een van Suid-Afrika se kleinste visserye, met ongeveer 160 lisensiehouers.
Daar word geskat dat ongeveer 600 000 oesters per jaar kommersiëel geoes word langs die Suidkus en ongeveer 300 000 in KwaZulu-Natal. Oestery vind plaas in rotsagtige gebiede. Persone wat die oeswerk doen, mag nie gebruik maak van duiktoebehore, soos paddavoete en onderwater-asemhalingsapparate nie. Sub-gety bronne mag ook nie aangeraak word nie.
Omdat die vissery so klein is, word min werk verskaf in vergelyking met ander visserye soos lynvis- en tjokka (calamari). Die oes van oesters verskaf wel 'n inkomste vir die lisensiehouers.
Lisensies word benodig om oesters kommersiëel of vir eie gebruik uit te haal. Doen navraag by Mariene en Kusbestuur vir meer inligting oor die uithaal van skulpvis, aas of hengelregulasies.
* IN SHORT
Residents are unhappy about a commercial fishing company that, once again harvested oysters (Striostrea margaritacea) from the rocks in Stilbaai West. Residents are of opinion that the company is damaging the coastline and also over harvesting the marine sources. There is also the question why local fisherman and unemployed people weren't given the opportunity to tender for the commercial licence to harvest oysters along the Stilbaai coastline.
Sakke vol oesters word deur die maatskappy se werkers ge-oes, tot ontsteltenis van plaaslike inwoners en bewaringslui in Stilbaai.
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS