Sandra Lotz van Cars het met die idee vorendag gekom, aangesien dit Saterdag, 4 Oktober Wêreld Diereregtedag was en besluit om 'n kompetisie te loods sodat die gemeenskap meer bewus kan raak van dié belangrike kwessie.
Die eerste vyf plekke is gekies deur personeel van die Suid-Kaap FORUM waarna die gemeenskap gevra is om deur middel van 'n sms te stem vir hul gunsteling prent.
Die vyf kleuters wie se tekeninge verlede week geplaas was is Tiffany Roux (5), Cassidy Josephs (3), Lyle Damons (5), Jana Kleinhans (4) en Tasley-Ann Stuart (5).
Maandag, 13 Oktober is die stemme getel en Jana Kleinhans het die meeste stemme ontvang.
Sy word opgevolg deur Tiffany Roux wat die tweede meeste stemme ontvang het. Tasley-Ann is derde, vierde is Cassidy Josephs en vyfde is Lyle Damons.
Die oorhandigings is Dinsdag, 14 Oktober by Miernes gedoen en tydens die geleentheid het Sandra haar wens uitgespreek dat hierdie 'n jaarlikse instelling moet word.
Al vyf die kleuters het 'n troosprys, wat deur Suid-Kaap FORUM geborg is ontvang. Cars het 'n kontantbedrag aan Jana Kleinhans geskenk en Tiffany Roux het 'n kontantbedrag van Era ontvang.
Shanine O'Connel van Era, wat gereeld vrywillig haar dienste aan Cars bied, het vir elke kleuter 'n sakkie geskenk.
Aletta Sutherland, skoolhoof en haar mede-personeel van ACVV Miernes speelgroep was so in hul skik met die geskenke wat die kleuters ontvang het en het hul dankbaarheid uitgespreek dat hul deel van die projek kon wees.
Die groot groep kleuters was duidelik in hul noppies met hierdie verrassingsbesoek.
Klik hier vir 'n vorige artikel.

Agter staan Shanine, Elize, Aletta en Sandra. Voor is Tiffany, Lyle, Cassidy, Tasley-Ann en Jana.

Die ander kleuters het ook elkeen 'n sakkie ontvang. Voor sit Aletta en mede-personeel tussen die kleuters. Agter staan Shanine, Sandra en Elize.
ARTIKEL EN FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'