'n Kort program is aangebied by die Julius Gordon Afrikana Sentrum, Versveld Huis om die klem te plaas op die uniekheid, asook waardevolle inhoud van die sentrum.
Die voorsitter van die Erfenisstigting op Riversdal, Anton du Toit het gesels oor ruimtes en het die uitvoerende burgemeester, rdl Emor Nel die noodsaaklikheid van erfenisbewaring beklemtoon.
"As jy erfenis en kultuur ervaar besef jy dat elkeen dit anders beleef, maar het elke persoon 'n individuele bydrae tot ons erfenis. Mag ons saambou en die dorp se erfenis 'n luisteryke ervaring vir elkeen maak". Museums is belangrik, nie net vir stimulering van toerisme nie, maar ook om te verseker belangrike erfenis gaan nie verlore nie.
Die sentrum is uniek omdat dit een van dié kleinste museums is met die grootste versameling Afrikana-items.
Die kunsversameling alleen bestaan uit werke van 61 kunstenaars in verskeie mediums en temas. In 1952 het Julius Gordon besluit om sy persoonlike Afrikana-versameling, bestaande uit skilderye deur Suid-Afrikaanse kunstenaars, antieke meubels, ornamente en boeke te skenk. Johan la Grange, kurator vertel dat rdl Theodore Versveld, 'n huisvriend van Gordon en eienaar van die gebou, die huis oopgestel het en het dit bekendgestaan as die Versveldhuis.
Die sentrum is amptelik geopen op 6 Mei 1966 deur JC Heunis.
In Versveld se testament is gestipuleer dat die gebou nooit as 'n museum mag bekendstaan nie, maar as die Julius Gordon Afrikana Sentrum, Versveld Huis, asook dat Gordon se besonderse versameling hier gehuisves moet word. Gratis toegang was ook 'n voorwaarde.
Die versameling moet elke vyf jaar deur 'n kuns- en oudhedekenner inspekteer word. Na die dood van Versveld in 1960 het die oordrag van die eiendom op genoemde voorwaardes aan die munisipaliteit geskied.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Agter van links: Anton du Toit, André Louw, Annelie Louw, Tobie de Villiers, Gerda Gunter en dr Chris Heese. Voor van links: Evelyn du Toit, rdl Emor Nel en dr Marié Heese.
ARTIKEL EN FOTO: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'