Update
HESSEQUA NUUS - Misdaad is die belangrikste rede waarom minder buitelandse besoekers Suid-Afrika gedurende die tweede helfte van die jaar besoek het.
Die somervakansie het aangebreek en toeriste van elders in die land en oorsee is besig om in groot getalle in die Suid-Kaap op te daag. Tog is daar kommer oor die afname in veral buitelandse toeriste omdat hulle vrees vir hul veiligheid.
"Die afname in besoekers het reeds begin toe die wêreld moes hoor ons water is op," sê Lood de Klerk, 'n toeroperateur wat landswyd toere onderneem.
"Die misdaad en gepaardgaande sosiale en gedrukte media daaroor en veral die polisie se onvermoë om misdaad te stop, raak veral die talle toeriste wat deur middel van die internet bespreek. Die debakel met SAL moet nou ook bygetel word. Dinge lyk nie rooskleurig vorentoe nie!"
Wenke vir jou oorsese gaste se veiligheid
Te midde van die misdaadvlaag wat die land teister, kan jy help om jou internasionale gaste se veiligheid te verseker. Maak hulle daarop bedag dat hulle nie saans in donker, verlate plekke moet rondloop nie, dat hulle 'n gehuurde voertuig op 'n verligte plek moet parkeer waar karwagte aan diens is en dat hulle nooit enigiemand se hulp by 'n kitsbank moet aanvaar nie. Voorts moet hulle afskrifte van alle belangrike dokumente op 'n veilige plek bewaar. Prent dit by hulle in dat hulle altyd hul motor gesluit moet hou en nie waardevolle items oop en bloot moet laat nie.
Hulle moet ook hul kamerdeure in die hotel of gastehuis toesluit wanneer hulle uitgaan of wanneer hulle gaan slaap. Oop vensters nooi diewe binne.
Vir jou eie veiligheid
- Stel familie, bure en vriende van jou reisplanne in kennis;
- Let op waar jy bure of ander inwoners kan help om misdaad te voorkom;
- Hou 'n noodhulpkissie byderhand en respekteer die son;
- Hou basiese veiligheidsmaatreëls in gedagte - sluit jou kluis, jou huis en jou motor;
- Maak seker jou Kersliggies is veilig en gaan nie 'n kortsluiting veroorsaak nie.
Hulp is byderhand
In die geval van 'n ongeluk of misdaadverwante voorval, kan Ilse Jacobs van Oudtshoorn by 082 972 2507 gekontak word. Sy is deur die Wes-Kaap departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme aangestel om internasionale toeriste te ondersteun. Laai hierdie toep af: 911Response24
There is concern about the decrease in international visitors visiting the country, apparently because of crime. You can help them to be safer by giving them these basic safety tips.
Lees 'n vorige artikel: Kommer oor toeriste se veiligheid
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'