HEIDELBERG NUUS - Die inligtingsvergadering deur Hessequa-munisipaliteit in die Duivenhoks-gemeenskapsaal op Dinsdagaand 28 November het alles behalwe die gewenste uitwerking op die gemeenskap gehad.
Die vergadering is deur die munisipaliteit beroep as deel van die publieke konsultasieproses om insette van die gemeenskap te bekom oor die voorgenome gemengde behuisingsprojek daar.
'n Voorlopige konsepuitleg is aan die vergadering voorgehou as basis van die besprekings.
Die voorgenome projek sal 'n kombinasie van gedienste erwe, laekostebehuising en HOP-behuising wees.
Die projek is tans in sy beplanningsfase en word aan die hand van die raad se goedgekeurde Behuisingspyplyn onderneem.
Die voorlegging is deur Chris Onrust, direkteur van gemeenskapsdienste, behartig.
Hy is deur twee amptenare van die kontrakteurs vergesel.
Drie ANC-wyksraadslede, James Gelderbloem en Thomas Pretorius, asook Lisby Pieterse het ook die verrigtinge bygewoon.
Sommige van die teenwoordiges het hul ontevredenheid met die proses tot dusver uitgespreek. Dié persone woon in die nabye omgewing van die beplande behuisingskema.
Volgens hierdie groep is hulle erfbelastingbetalers en sal laekostebehuising hul erfwaardasie verminder en assuransie onkostes verhoog.
Hulle is egter nie teen ontwikkeling en veral die bou van nuwe huise nie, maar wou weet hoekom nuwe huise nie in ander dele van die dorp begin word nie.
Nog 'n probleem wat hulle geopper het, is die sigwater in die gebied waarmee hulle reeds jare lank mee sukkel.
Die beplande gedeelte tussen die N2 en die huidige huise is volgens hulle nie geskik om op te bou nie, omdat 'n dam voorheen daar was.
Van die ontevredenes meen dat 'gap' huise in stede van laekostehuise gebou moet word.
Die huidige formaat maak voorsiening vir 27 HOP-huise, 127 laekostehuise en 32 gedienste erwe en volgens hul beraming is daar nagenoeg 200 aansoekers wat nie vir laekoste behuising kwalifiseer nie as gevolg van hul salarisse.
Een van die sprekers, Dean Prins het 'n pleidooi vir deursigtigheid gerig met alle nuwe projekte.
Volgens hom is dit nie van pas dat slegs twee amptenare totale beheer oor behuising het nie.
Die aanwesiges luister aandagtig na Dirk van Wyk.
Verskeie ander het ook hul vrees uitgespreek dat daar geknoei sal word met die toekenning.
Byna al die sprekers het daarop aangedring dat die munisipaliteit ook 'n komitee van die aansoekers gekies moet word om alle oneerlikheid van aansoekers hok te slaan.
Onrust het die versekering gegee dat hul griewe genotuleer word en dat hulle dit in ag sal neem en die nodige veranderings sal maak aan die formaat van die projek.
Hy het gesê indien mense voorstelle wil indien, dit so spoedig moontlik gedoen moet word.
Hy het saamgestem dat daar 'n komitee van die aansoekers saamgestel word om ongerymdhede uit die weg te ruim.
Na bewering het van die vorige aansoekers hul werkgewers gevra om hul salarisse te verminder om te kan kwalifiseer.
Kommentaar: Hessequa-munisipaliteit distansieer homself van enige bewerings en bespiegelings van knoeiery en is deurentyd tot 'n skoon en deursigtige administrasie verbind.
Die vierde agtereenvolgende skoon oudit getuig daarvan.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'